-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Inwoners van die nuwe gedeelte van Kerkstraat en die hoof van verkeer, Agrey Nyalana, is tans besig met ‘n aksie om Kerkstraat se verkeersvloei te verbeter. Die DA het ook hierdie week ‘n mosie ingedien dat die saak dringend deur die stadsraad ondersoek word.
Volgens DA raadslid, Astrid Basson, bly daar meer as 700 inwoners in hierdie straat en die enigeste wettige toegang is deur Oberholzerstraat. “Die area is oorspronklik as ‘n residensiëel 1 gedeelte gesoneer. Geen voorsiening is gemaak vir die groot hoeveelhede verkeer wat die smal straat tans dra nie.”
Sedert die aanvanklike dorpstigting is daar baie hersoneringsaansoeke vir hoër digtheidsontwikkelings toegestaan deur die Lephalale stadsraad. As gevolg daarvan het verkeer op hierdie pad erg toegeneem en veral busse en vragmotors wat voor erwe stilhou is volgens inwoner Denise Hildebrand ‘n groot probleem. “Die pad is baie nou en as ‘n vragmotor voor ‘n woonstelblok stilhou of parkeer kan niemand verby nie.”
Daar heers ook kommer oor die veiligheid van inwoners. “Die straat is omring deur veld en gras en sou daar ‘n brand uitbreek moet 700 mense deur een uitgang beweeg” meen Basson.
Volgens Hildebrand het Nyalana twee keer die verkeer gemonitor en aan hulle gesê ‘n geteerde pad wat vanaf Hendrik Pretorius-straat na Kerkstraat loop moontlik oopgestel kan word indien die einaar van die grond toestemming verleen.
Die mosie stel ook voor dat die grondpad wat deurloop na die industriële area wettig verklaar word vir publieke gebruik. Inwoners dring ook daarop aan dat busse en troke nie op die smal pad toegelaat word nie.
Nyalana kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.
0 Comments