-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Met al die gewag wat die Premier tydens sy provinsiale rede van Lephalale gemaak het as ‘n “stad van die toekoms” het ander ontwikkelingsbrandpunte in Limpopo effe agterweë gebly.
Mogalakwena munisipale bestuurder, William Kekana, het hierdie week Noordelike Nuus daarop gewys dat Mokopane óók as ‘n “stad van die toekoms” geïdentifiseer is deur beide die provinsiale en nasionale regerings. “Ons het hard hiervoor baklei,” sê Kekana, “maar as ons nie nou al die toekomsontwikkeling wat die mynbedryf in die dorp gaan meebring onder die nasionale regering se aandag kon bring nie, sou ons soos Burgersfort en selfs Lephalale met ons broek op ons knieë gevang word,” verduidelik hy.
In beide Burgersfort en Lephalale het die skielike ontwikkeling plaaslike owerhede onkant gevang en kreun ontoereikende infrastruktuur onder die skielike instroming van mense.
“Huidiglik spandeer ek amper al my tyd daaraan om seker te maak die dorp het genoeg water vir die toekoms,” sê Kekana.
Hy het reeds bewerkstellig dat Mokopane water van Flag Boshielo-dam (Arabiedam) af sal kry sodra die De Hoop dam klaar gebou is.
Dele van Polokwane word tans deur Flag Boshielo van water voorsien, maar sal in die toekoms deur die De Hoop dam voorsien word.
“Daar is ook etlike nuwe mynmaatskappye wat in die nabye toekoms hier gaan kom myn. Hulle gaan water nodig hê en ons is reeds in gesprek met hierdie myngroepe en ook die departemente van waterwese en landbou om te kyk na die vorming van vennootskappe tussen die staat en privaatmaatskappye rondom watervoorsiening.”
Kekana sê terwyl die Mogalakwena platinamyn huidiglik die grootste oopgroef platinamyn in die wêreld is, is Anglo Platinum se planne om nog drie ondergrondse skagte in langs die bestaande myn te sink reeds ver gevorderd. “Daar is selfs sprake van ‘n vierde skag.”
Hy sê terwyl PlatReef hard aan die werk is in die omgewing is Lonmin ook ernstig besig om na moontlike mynontwikkelings in die munisipale gebied te kyk.
Kekana sê die grootste uitdaging wat die toekomsontwikkeling in die Mogalakwena distrik naas water meebring gaan wees om korrupsie hok te slaan. Hy hoop om hierin deur die provinsiale en nasionale regerings gesteun te word.
0 Comments