-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Al hoe meer kinders sukkel met rug en nek beserings – die rede: swaar skooltasse. So meen die Chiropraktiese Vereeniging van Suid-Afrika se hoofuitvoerende beampte, Dr. Reg Engelbrecht. Noordelike Nuus het met hom gesels oor hierdie saak wat baie ouers na aan die hart lê.
Hy waarsku dat swaar sakke wat veral op een skouer gedra word kan lei tot lae rugpyn en posturele probleme. “Rugpyn is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie ‘n epidemie wêreldwyd. Wat egter baie kommerwekkend is, is dat al hoe meer kinders kla van rug- en nekpyn.”
“Kinders word vandag totaal oorlaai en skole vergeet dat ‘n kind se rug soos ‘n jong boompie is wat, indien dit voortdurend in ‘n sekere rigting gebuig word, permanent skade kan lei.”
Dr. Engelbrecht sê hy sou graag wou sien dat wetgewing ingestel word om skole te dwing om kinders se tasse ligter te maak. “Hierdie tipe wetgewing is reeds in Amerika in werking gestel en SA behoort dieselfde roete te volg. Skole behoort sluitkaste te installeer of klasse só te wissel dat boeke daar gestoor kan word.”
Volgens Engelbrecht is die voorgeskrewe gewig wat ‘n kind kan dra 10% van sy ligaamsmassa.
As die kind dus 30kg weeg mag die tas nie meer as 3kg weeg nie. Tasse wat swaarder is as die 10% dwing die kind om vooroor te buig om die tas te kan dra, dit plaas al die gewig op die rug en nie die skouers nie.
Dr. Engelbrecht gee die volgende raad:
- Sorg dat jou kind nie meer as 10% van sy liggaamsgwig dra nie. As dit nie die geval is nie, praat met die skool en hoor hoe die tas ligter gamaak kan word. Ek stel voor dat ouers daarop aandring dat sluitkaste by die skole aangewend word.
- Plaas die sak op albei skouers. Tasse wat gesleep word of op een skouer gedra word veroorsaak geweldige posturele probleme.
- Die rugsak moet nooit 10cm onder die middel hang nie
Herrangskik die tas binne en maak seker dat daar nie bulte by die gedeelte van die tas is wat aan die kind se rug raak nie.
Kies ‘n tas met breë gekussingde drabande wat oor die skouers gedra kan word. Maak seker dat die bande nie te los is nie, sodat die sak gemaklik op die rug gedra kan word.
Wat sê ons lesers?
Charmaine Neethling: “My oudste seun is 11 en weeg 32kg, sy tas weeg 9kg. Ek moet sê ek is geskok, ek het regtig nie gedink dit is só swaar nie!!”
Corlet Briel sê haar seun Zach in Krugerpark weeg 60kg, en sy skooltas 9,8kg.
Linda Erasmus se seun Marko is in Bosveld Laerskool, hy weeg 28kg en sy tas weeg 6.5kg.
Joan Murray “My drie kinders is by Laerskool Ellisras. Die gewig van hulle skooltasse is: Willem in Gr. 3 weeg 29.3kg en sy tas is 4.9kg, Jeanette is in Gr. 4 weeg 34kg haar tas weeg 9.5kg, Isak wat in Gr. 6 weeg 38kg en sy tas is 10.5kg. Die sportsak met water en sportsklere dra hulle apart.
Geraldine Henning sê: “Ek is so sewe jaar uit die skool en ek kan nog goed onthou hoe swaar my tas was, al was dit volgens rooster gepak. Ek weet in Gr. 8 en Gr. 9 kon ‘n mens duidelik in my skouer spiere sien dat die een grooter was as die ander een! En ek het baie met spier spasmas gesukkel in die een skouer.”
0 Comments