-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die departement van omgewingsake se Groen Skerpioene is besig met ’n forensiese audit na Eskom se betrokkenheid by die beweerde onwettige sandmynery uit die Mogolrivier vir bouwerk aan die Medupi-kragstasie by Lephalale.
Beeld het verlede week berig dat Frances Craigie, hoof van die Groen Skerpioene, ’n opdrag aan Eskom se bestuur gegee het. Dié skrywe dui aan dat die departement bekommered is oor die beweerde ernstige agteruitgang van die Mogolrivier terwyl bouwerk aan Medupi aan die gang is.
Volgens Beeld het Albi Modise, die departement se hoofdirekteur van kommunikasie gesê ’n deeglike ondersoek na alle partye wat by die bouwerk van Medupi betrokke is sal binnekort van stapel gestuur word. Partye kan volgens hom eindelik strafregtelik vervolg word.
Noordelike Nuus het voorheen berig dat ’n ondersoekspan van die Wêreldbank verlede jaar November bevind het dat die omgewingsimpak- en watergebruikstudie wat aan die Wêreldbank voorgehou is as deel van Eskom se aansoek vir ‘n R30-miljard lening, onvoldoende was. Die lening is in 2010 aan Eskom toegestaan.
Die verslag wat deur die paneel saamgestel is het bevind dat die Wêreldbank nie genoegsaam gesondheids- en omgewingsfaktore in berekening gebring het toe die lening vir die voltooing van die Medupi projek goedgekeur is nie.
Die paneel het Lephalale twee maal besoek en was veral bekommerd oor die impak van sandmynery op die Mogolrivier.
Hilary Joffe, hoof van kommunikasie by Eskom, het in haar reaksie gesê dié kragverskaffer meen daar was geen onwettige optrede met die bouwerk van Medupi nie. Eskom hou vol die maatskappy wat die bouwerk aan Medupi doen, koop die sand by ’n mynhuis wat ingevolge mynbouwetgewing ’n mynpermit by die departement van minerale bronne ontvang het.
Intussen is verneem dat Graigie Eskom gewaarsku het dat die Groen Skerpioene alle rekenaars en geskrewe dokumente in die kragverskaffer se besit gaan ondersoek om vas te stel watter stappe gevolg is om sand vir die bouwerk uit die Mogolrivier te myn.
Volgens Joffe het studies getoon die sandmynery het die funksionaliteit van die rivier verhoog.
“Die rivier is dus nie vernietig nie, maar verbeter,” het sy volgens Beeld gesê. Eskom voer aan die myn van sand uit die Mogol gaan reeds vir etlike jare aan en die maatskappy wat dit aan Eskom verskaf, voorsien ook ander boukontrakteurs uit dié rivier.
0 Comments