<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Boere se grondwetlike waarborg bedreig

 
News : 02 Apr 2012 289 Viewed By Jasper Raats 0

Artikel 25 van die Grondwet van Suid-Afrika, maak voorsiening vir markverwante vergoeding waar grond vir openbare doeleindes soos grondhervorming onteien word. Dit is juis hierdie eiendomsklousule wat volgens die ANC heroorweeg moet word omdat die bestaande grondhervormingsbeleid volgens hulle misluk het.
Hierdie nuus het die week skokgolwe deur Suid-Afrika se landbougemeenskap gestuur. Dr. Theo de Jager visie-president van Agri SA sê die unie is baie bekommerd oor uitsprake dat die grondwet verander moet word. “Wat ons die meeste pla is dat daar nie presiese inligting gegee word oor wat die ANC beoog met grondhervorming nie. Artikel 25 word inelkgeval nie vandag gehandhaaf nie aangesien die regering reeds slegs 60% van markwaarde betaal.”
Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het Sondag ná ’n vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee gesê dat die Grondwet aan die behoeftes van die tyd moet voldoen. Volgens mediaberigte het hy gesê: “Dis ’n lewende dokument. Dis belangrik dat ons oor die bepalings in die Grondwet praat en weer daarna kyk.”
Mantashe het spesifiek verwys na die stadige verdeling van grond en gesê: “Grond staan aan die kern van elke ANC-leier se stryd.” Hy het bevestig dat artikel 25 heroorweeg moet word om grondhervorming te versnel. De Jager het hierdie week aan Noordelike Nuus gesê dat sou die vrywillige koper beginsel geskrap word, landbou in Suid –Afrika totaal in duie sal stort. “Boere in Suid-Afrika verkeer tans onder groot finansiële druk omdat banke nie meer grond wil finansier nie. Dit is veral in die noordelike provinsies waar landbou ontwikkeling gekniehalter word weens ‘n tekort aan finansiering. Ons neem die banke nie kwalik nie. Ons grondwetlikke waarborg vir grondbesit word bedreig, en dit skrik finansierders af.” Volgens de Jager het verskeie lande wat voorheen in lanbou hier belê het, reeds hulle beleggings ontrek.
De Jager is veral bekommerd oor die feit dat die regering weier om bilaterale ooreenkomste met sowat 17 lande wat Suid-Afrikaanse boere genooi het om daar te boer te sluit. So ‘n bilaterale ooreenkoms bepaal dat boere en die regering van daardie land berskerming op beleggings geniet. “Ons glo die feit dat die regering nie hierdie ooreenkomste wil teken nie is ‘n aanduiding dat niemand se beleggings voorentoe in Suid-Afrika beskerm sal word nie.”
Verskeie politieke ontleders het hierdie week daarop gewys dat die grondwet slegs verander kan word indien die regerende party ‘n twee-derde meerderheid met die volgende verkiesing behaal. De Jager meen egter dat die regering hierdie beginsel soos in die geval van Zanu PF in Zimbabwe kan ignoreer om grond sonder vergoeding te onteien. Beide Mantashe en die minister van Finansies Pravin Gordhan het hierdie week die versekering gegee dat die regering nie hierdie roete sal volg nie.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube