-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MARKEN - ‘n 41-jarige vrou is Maandagoggend by die Lamave herberg (lodge) naby Marken verkrag. Volgens Lephalale polisiewoordvoerder, Frans Mokoena het drie mans, geklee in die wildsplaas se uniforms, die opstal op die plaas Vlakpan betree en vier werknemers van die herberg, onder wie die vrou, vasgebind en aangehou.
Een van die werkers het daarin geslaag om ‘n vuurwapen by ‘n aanvaller af te neem, hy kon egter nie ‘n skoot afvuur nie. Die vuurwapen is weer by hom teruggevat en hy is oor die kop daarmee geslaan.
Nadat die vrou verkrag is, het die verdagtes die kluis verskeie kere vergeefs probeer oopkry. Hulle het volgens Mokoena die huis omgekeer vermoedelik opsoek na geld en vuurwapens. Die mans het gepoog om ‘n plasma-skerm TV te steel, maar kon ook nie daarin slaag nie. Hulle is uiteindelik daar weg met vleis, selfone en bankkaarte.
Hoewel dit aanvanklik gelyk het of die verdagtes te voet gevlug het, het dit later geblyk dat ‘n motor hulle by die plaashek opgelaai het.
Volgens Mokoena het die verdagtes R1 000 by ‘n OTM in Marken getrek en is die selfoon wat gesteel is se sein later by Northam waargeneem. Die vrou en beseerde werknemer is by ‘n kliniek in Witpoort behandel.
Die eienaar van die herberg, Ian Goslett, het Maandag vanaf Johannesburg per helikopter na die wildsplaas gevlieg. Teen druktyd kon hy nie vir kommentaar bereik word nie.
Gawie van Zyl, voorsitter van die Agri SA Limpopo veiligheidkommitee het Dinsdag aan Noordelike Nuus gesê dat die organisasie weereens daarop aandring dat die regering erns maak met plaasaanvalle. “Wanneer ligaamlike leed aan mense gedoen word, is dit nie roof nie, maar ‘n aanval. Hierdie aanvallers het geen respek vir mense se lewens nie. Dit mag nie meer ligtelik opgeneem word nie.”
Van Zyl doen ‘n beroep op boere om betrokke te raak by landelike veiligheid.
0 Comments