-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die gereedheid van Lephalale se rampbestuurdienste om rampsituasies te hanteer is by ‘n onlangse landelike veiligheidsvergadering van die polisie bespreek. Sake soos te min hospitaalbeddens, ‘n brandweerwa wat water lek, netwerk probleme en ‘n grootskaalse te kort aan personeel en hulpbronne is ter tafel gelê.
Die brandweer se stasiehoof, Victor Mautjana, het by die vergadering te kenne gegee dat hoewel die stasie 100% operasioneel is, brandbestryding op plase tans ‘n probleem is.
‘n Lekasie aan die brandweerwa veroorsaak dat die wa net 50% vol gemaak kan word. Die toestand van paaie veroorsaak egter dat die meeste van die water uitmors teen die tyd dat die wa ‘n plaas bereik. “Ons gebruik tans sekondêre voertuie om plaasbrande te bestry, dit help nie ons ry tot by ‘n plaas en al die water het uitgelek nie,” het Mautjana gesê
Noordelike Nuus het voorheen berig dat die munisipaliteit vir die nuwe finansiële jaar begroot het om ‘n nuwe vierwielaangedrewe brandweerwa aan te koop.
Mautjana sê die uitdaging is om ‘n voertuig te bestel wat spesifiek gerat is vir die paaie. “Ons werk met ‘n beperkte begroting en ons moet besluit watter spesifikasie noodsaaklik is.”
Mautjana gee ook te kenne dat die proses tot ‘n jaar kan neem voordat die nuwe brandweerwa beskikbaar sal wees. Hy het gevra vir kenners se hulp om die brandweerwa te herstel aangesien dié wa se instandhoudingskontrak verval het.
Mautjana glo dat die rampsentrum in samewerking met Exxaro en Eskom wel brande onder beheer sal kan bring die komende brandseisoen. “Ons het met Exxaro en Eskom begin vergader en in die verlede het ons ‘n baie goeie samewerkingsooreenkoms gehad waar die Munisipaliteit betaal het vir hul dienste. Ons wil egter ooreenkom dat ons mekaar op ‘n vrywillige basis sal bystaan waar nodig.”
Die nooddienste departement het ook by die vergadering hulle kommer uitgespreek oor netwerkprobleme in die area. Nooddienste het boere gevra om plase duidelik te nommer en om hekke oop te sluit wanneer daar ‘n noodgeval is. “Ons sukkel om boere te kontak wanneer daar geen opvangs is nie en baie kere is plaashekke gesluit of ons weet nie wat die plaas se nommer is nie.”
DA raadslid , Stephen Manamella wat in beheer staan van die rampbestuur portfolio by die munisipaliteit het aan die vergadering gesê dat daar in die toekoms ‘n rampbestuurforum in Lephalale sal wees. Sy komitee gaan ook nog in Mei met die Waterberg rampbestuursafdeling vergader om sake rakende Lephalale se veiligheid te bespreek.
0 Comments