-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MARNITZ - ‘n Huiswerker is Saterdagoggend deur vier mans op die plaas Bordeaux in die Marnitz omgewing oorval en met kookwater gebrand. Flora Monyane wat op die plaas van Maritz en Corrie Kruger werk, is net na sewe Saterdagoggend in die gesig met pepersproei gespuit en vasgebind.
Die verdagtes het haar ondervra oor waar geld en vuurwapens in die huis gehou word. Toe sy hulle nie wou antwoord nie is kookwater oor haar uitgegooi.
Die Krugers was toevallig daardie oggend nie by die huis nie omdat hulle op die ingewing van die oomblik besluit het om Mokopane toe te gaan om inkopies te doen. “Dit was ‘n skielike besluit en iets wat ons gewoonlik nie sommer doen nie, ek glo die stap het moontlik ons lewens gered,” het Maritz die week aan Noordelike Nuus gesê.
Die verdagtes het die huis omgekeer en selfs ‘n muur inmekaar geslaan om by die skaniere van ‘n kluis uit te kom. Die kluis is met ‘n hoeksnyer oopgesny en ‘n onbekende hoeveelheid geld en vuurwapens is geroof.
Volgens die Krugers is ‘n buurman omstreek 09h00 na die plaas om iets daar te gaan haal. Toe die huiswerker nie uitkom nie, het hy die toeter by die hek, wat gesluit was, bly druk. Dit is toe dat vier verdagtes te voet met handwapens en kontant gevlug.
Monyane word tans in die Ellisras Hospitaal vir brandwonde en skok behandel. Volgens Maritz is haar toestand bestendig.
Gawie van Zyl, voorsitter van Agri-SA se landelike veiligheidkomitee sê dit is uiters belangrik dat boere en hul plaaswerkers betrokke raak by die landelike veiligheidsplan vir die gebied. “Huis- en plaaswerkers moet opgelei word in dié verband, hulle moet weet hoe om ‘n noodsein uit te stuur.”
Van Zyl is ook bekommerd dat die aanval as roof en nie ‘n plaasaanval bestempel word nie. “Wanneer iemand erenstige leed aangedoen word, is dit mos ‘n aanval en dit moet so geklasifiseer word,” meen van Zyl.
Kaptein Ronel Dickensen, stasiebevelvoerder op Tom Burke sê die saak word ondersoek, maar dat nog geen verdagtes in hegtenis geneem is nie. Enige iemand met inligting kan die polisie op Tom Burke skakel by 014 767 1124.
0 Comments