-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Pippie verjaar more (Saterdag) en gaan vir die eerste keer sedert haar ongeluk in Desember verlede jaar haar bababoetie kan sien. Klein Arno, wat ook hierdie maand een word, sal Saterdag met teater- klere aan en ‘n maskertjie om die mond sy sussie kan gelukwens met haar derde verjaarsdag.
Pippie, of te wel Isabella Kruger van Lephalale, wat op Oujaarsaand deur ‘n fratsongeluk derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen het gaan Maandag die eerste brand-pasiënt in Suid-Afrika wees om ‘n veloorplanting met vel wat van stamselle gekweek is te ontvang. Noordelike Nuus het hierdie week met haar ma, Anice Kruger, wat sedert die ongeluk saam met Pippie in die intensiewe sorgeenheid van die Garden City Clinic in Brixton ingeburger is gesels.
NN: Wat beplan julle vir Pippie se verjaarsdag.
Anice: In ‘Intensief’ is dit so moeilik, maar daar gaan definitief cupcakes en balonne wees en ons gaan geskenke oopmaak en haar bietjie mooi probeer aantrek. Dit is hartseer, want sy moet op haar verjaarsdag groot teater toe gaan om voorberei te word vir die veloorplanting Maandag. Daar is so baie mense wat gesê het dat hulle vir haar ‘n pakkie gaan bring en daar gaan selfs ‘n spesiale koek wees. Die beste deel van die dag sal wees as haar boetie Arno vir haar kom kuier.
NN: Mense sê gereeld, hulle weet nie hoe jy so sterk bly nie.
Anice: Drie dinge. God gee my bo-menslike krag en positiwiteit en met God aan my sy hoe kan ek nie sterk wees nie. Die tweede ding is so twee weke voor die ongeluk het ek my skuldklier laat uithaal en een oggend sê ek vir Pippie: “Mamma het nie krag vandag nie.” Sy het my so gekyk en gesê, “Mamma kan myne kry”. En elke keer as ek bietjie hartseer raak dink ek aan daardie woorde en ek weet as Pippie nie so sterk was nie sou ek nie kon wees nie. En dan die ondersteuning van my man en die hele wêreld, almal se gebede almal se oproepe, smse, e-mails en briewe is so ‘n fantastiese geskenk van die Here af. Almal dink altyd hulle pla, maar hulle sal nooit verstaan hoe dit my gees versterk nie.
NN: Vertel ons meer oor Maandag se operasie.
Anice: Die stamselle was so ‘n lang proses en nou dat dit amper hier is voel dit onwerklik. Die vel is Maandag reg en dan sal dit oorgevlieg word vanuit die VSA. Al die vel word op een slag gekweek, een slag gestuur en een slag oorgeplant. Vandat die vel gemaak is het ons 24 uur om dit op haar te kry. So dit is nogal ‘n stressvolle tydjie wat Maandag voorlê. Maar als is haarfyn beplan en die dokters vat almal ‘n dag hierdie week af sodat almal gereed kan wees sodra Dr. Sven Kili land met die vel. Daar sal ‘n noodvoertuig by die lughawe wees om hom deur te jaag hospitaal toe sodat die hele proses kan begin.
NN: En daarna?
Anice: Sodra die veloorplanting gedoen is sal Pippie rehabilitasie toe gaan waar ek ook sal leer hoe om haar te versorg. Dan sal sy naweke vir ‘n uur of twee uit die hospitaal kan kom om te kyk hoe sy reageer.
Hopelik sal sy een van die dae vir ‘n hele naweek uit kan kom.
NN: Hoe gaan dit emosioneel met Pippie?
Anice: Ek het haar steeds nie vertel wat gebeur het nie en ons sal na die vel oorplanting met speelterapie begin om te sien hoe haar gemoed is. Sy is gefrustreerd en kners op haar tandjies, maar sy is baie sterk.
NN: Wat is die eerste ding wat jy en Pippie gaan doen as julle weer op die plaas is?
Anice: Al die stout goedjies wat ek en sy saam gedoen het voor die ongeluk. Soos om met bordkryt teen die mure te skryf, met Arno in die sand te speel en Oros te drink terwyl ons “cuddle” op die bank en Scooby Doo kyk wanneer ons eintlik ons werkies moet doen.
NN: Hoe kan lesers help?
Anice: Ek sal net vra dat almal saam bid vir Maandag se operasie en al die dokters en die verpleegpersoneel by Netcare Garden City. En dan net dankie sê vir elke wonderwerk, ons moet nooit ophou al die eer aan God gee nie.
Aan almal wat ons bystaan wil ek so baie dankie sê, die donasies die presentjies, die alles van almal af, ek kan net dankie sê. Die pad sover was lank en die pad vorentoe kan nog langer wees, en al waarvoor ek vra en nog gevra het is gebed. Daar kom n tyd dat dankie nie meer goed genoeg voel nie, maar daar is nie n beter woord as dankie nie. Ek dink ek kan ‘n boek vol name skryf so baie dankies is daar al.
0 Comments