-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Sy was 22 toe sy die Suid-Afrikaanse musiekbedryf laat regop sit het met treffers soos 'Afrikaners is plesierig' en 'Engel'. Tien jaar later en met verskeie toekennings agter haar naam bly sy een van SA se voorste sanger-liedjieskrywers. Karen Zoid het verlede Woensdagaand met haar 'Zoid Afrika' vertoning by die Bosveldfees in Lephalale gewys waarom sy wêreldwyd beskou word as ‘n Suid-Afrikaanse 'rock-ikoon'. Noordelike Nuus se Valerie Cilliers het na die vertoning met haar gesels...
NN: Wat het jy hierdie tien jaar in die musiekbedryf oor jouself geleer?
KZ: Ek dink my grootste les is dat ek tog nie so baie weet as wat ek gedink het toe ek met hierdie ding begin het nie. Die jare het my ook geleer dat ek die tyd moet uitkoop. Om met ‘n kitaar in die hand op ‘n verhoog te staan is my alles en ‘n mens weet nie hoe lank jy die voorreg gaan hê nie. My grootse les het ek egter nie op die verhoog geleer nie. Om ‘n ma te word het my hele perspektief op die lewe verander. Ek dink ek het besef dat ek vir my seun ‘n nalatenskap moet los. As gevolg van hom het alles om my baie meer betekenis.
NN: Zoid Afrika is jou sesde album, maar jou eerste vollengte Afrikaanse album. Wat het jou laat besluit om net Afrikaanse liedjies in te sluit?
KZ: Ek het met die 'Afrikaners is Plesierig'-toer verlede jaar net weer besef watter belangrike rol Afrikaanse gehore in my loopbaan gespeel het. Hulle het my die platvorm gegee wat ek nou het. So jy kan maar sê, Zoid Afrika is om dankie te sê aan Afrikaners wat my die afgelope 10 jaar ondersteun het.
NN: Jy is bekend vir die sosiale kommentaar in baie van jou liedjies. Op jou nuwe album gee die liedjie 'Goeie More Optimiste' ‘n satieriese blik op
wan-administrasie in munisipaliteite. Is jy self negatief oor wat om jou aangaan of neem jy slegs waar?
KZ: Ek skerts baie in die spesifieke liedjie oor die situasie in ons land, maar ek is self baie optimisities oor SA. Mense sal vir jou sê om optimisties te wees is om ‘n naïwe uitkyk op die lewe te hê, maar ek sien optimiste as mense wat sterk genoeg is om die negatiewe uit te sluit. Dit is baie maklik om saam te praat en negatief te wees, maar dit vat ‘n bietjie meer van ‘n mens op positief te wees. Ja, en daar is immers baie om oor positief te wees.
NN: Een van die liedjies wat vanaand se gehoor ook baie geniet het is van jou album Media, genaamd 'Small Room'. Met wie sal jy nie in ‘n klein kamertjie opgeskeep wil sit nie?
KZ: Ek dink nie daar is ‘n spesifieke persoon nie...eerder ‘n soort persoon. Noem hulle maar die “iste”. Seksiste, rassiste....daarvoor sien ek nie kans nie.
NN: Wat was jou indrukke van Lephalale en die Bosveldfees?
KZ: Dit is my tweede keer dat ek Lephalale besoek, maar my eerste keer by die fees en ek staan verstom.
Die meeste feeste word deur groot maatskappy geborg en georganiseer. Ek was uit die veld geslaan om te hoor dat die fees deur lede van die gemeenskap georganiseer word. Ek weet watse harde werk gaan in so fees in.
Al wat ek kan sê is 'well done' en ek hoop julle gaan nog groter!
0 Comments