<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Stap ‘n draai deur ons verlede

 
Met die intrapslag verwelkom ‘n versameling ou trekkers en plaasimplimente besoekers by die Arend Dieperink Museum.
News : 12 Jul 2012 598 Viewed By Jasper Raats 0

MOKOPANE – Arend Dieperink het op 12-jarige ouderdom begin om sy familie se huishoudelike items en erfstukke van geskiedkundige waarde te versamel.
Op 20 April 1968 word die versameling oudhede wat hy en sy vrou, Maria Kruger, oor die jare uit beide families se oudhede opgebou het aan die Potgietersrus Kultuurraad oorhandig. En vier jaar later, op 15 Julie 1972 word die Arend Dieperink Museum die eerste museum wat by die Provinsiale Museumdiens geaffilieer het.
Tot vandag staan die Museum in Thabo Mbeki-weg en lewer stille getuienis van die gebeure wat die dorp en sy mense gevorm het.
En hierdie is nie ‘n eensydige verhaal van voortrekkers en hul stryd nie, nee, die Arend Dieperink Museum speur die geskiedenis na tot in die tyd van die dinosourusse, die verhaal van die San-mense (boesmans) wat in die Waterberge gedwaal het asook die latere intrekkers soos Makapan en sy mense se verhaal word hier in die dorp se geskiedenis ingeweef.
Die verhaal begin miljoene jare gelede by die Makapansgat-uitstalling waar plakkate die Australopithes enes (aapmense) se leefwyse rondom Makapansgrotte uitbeeld.
‘n Uitstalling van skedel en beenfragmente vertel die res van die verhaal. Daar is klipskerwe wat getuig van aktiwiteite in en om die grotte tydens die steentydperk.
Dan is daar die verhaal van die boesmans wat in die omgewing gebly het, maar verwilder is toe die ander swart stamme en ook die voortrekkers hulle hier kom vestig het.
Foto’s van mense by primitiewe smeltoonde getuig van ystersmede onder die Waterberg se inwoners wat behendig assegaaie en ander gereedskap gemaak het, assegaaie wat in die bitter stryd tussen die swart en wit intrekers van die gebied teen mekaar gebruik is.
Dit is in hierdie stryd wat Kommandant-Generaal Piet Potgieter sy lewe by Makapansgrotte verloor het waarná die plek, Vredenburg, tot Piet Potgietersrust hernoem is.
Op 15 Oktober 1859 het Christiaan Rabe met 17 families die eerste intrekers van dorp geword.
Hulle het uit die voortrekkerdorp. Schoemansdal, naby Louis Trichardt gevlug.
Dan word die verhaal van die stryd tussen Boer en Brit uitgebeeld en besoekers kry ‘n blik op die harde realiteite van konsentrasiekampe en wie die leiers agter die Anglo Boereoorlog was.
Van hier stap besoekkers na die volgende afdeling waar die Arend Dieperink versameling en ook ‘n replika van Mnr. Dieperink se studeerkamer uitgebeeld word.
Hierop volg ‘n reeks uitbeeldings van die eenvoudige klein huisies waarin die boere net ná die oorlog gewoon het – klein drie-vertrek woningkies met buiterondawels waarin die seuns gewoonlik geslaap het. Boumateriaal het gewissel na gelang van beskikbaarheid. Ongebakte kleistene, houtrame en kleimure en klip was die algemene boumateriaal in die vroë dae van Piet Potgietersrust. Die gebou wat die museum vandag huisves was Potgietersrus Laerskool se eerste skoolgebou en een vertrek wys hoe klaskamers in hierdie skool daardie jare gelyk het. (Anders as vandag is daar handboeke op die tafels. Red.)
Die laaste vertoonkamer beeld die geskiedenis van die dorp se tabakbedryf uit – eens die groot ekonomiese dryfveer van Potgietersrus, maar nou steun Mokopane se ekonomie op mynbou, ander landbouaktiwiteite en die besteding van welsysnstoelae wat aan inwoners van die ou Lebowa tuislandgebied uitbetaal word.
Besoekers kan dan rustig deur die museumterrein wandel en die ou ossewaens en perdekarre bewonder, die trekker en implementversameling besigtig en dalk ‘n koppie tee onder die yslike koeltebome geniet.
Maar reël verkieslik vooraf indien u van die teetuin gebruik wil maak.

 

 

 
 

Die graftoneel van ‘n swart vrou wat omtrent 500 jaar gelede in die Makapansvallei begrawe is. Die naam Mokopane is van Makapan afkomstig.
‘n Uitbeelding van ‘n tipiese plaaswerf van die eerste Boere wat hulle in die Mokopane-omgewing kom vestig het.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube