<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Huis huurpryse laat beleggers regop sit

 
News : 23 Jul 2012 227 Viewed By Valerie Cilliers 0

LEPHALALE – Huurinkomste vir wonings in Lephalale het die afgelope paar maande nuwe hoogtes bereik wat beleggers landwyd en selfs internasionaal laat wonder of hulle in eiendom hier moet belê.
Gewone vier slaapkamer woonhuise word tans vir R30 000 per maand uitverhuur, terwyl maatskappye bereid is om R23 000 vir ‘n twee slaapkamer huis te betaal. Die vraag bestaan egter of die pryse volhoubaar is. Is dit wys om nou in eiendom hier te belê?
Noordelike Nuus het hierdie week met sakemanne in Lephalale oor die volhoubaarheid van die huidige huurmark gesels.
Plaaslike ontwikkelaar, Lofty Fourie meen die huurmark kan vir die volgende twee jaar so sterk bly. Fourie sê hy skroom nie om tans in Lephalale te belê nie. “Ek dink persoonlik dat dit ‘n goeie tyd is om hier te belê omdat huidige huurpryse verseker dat jy binne ses tot sewe jaar jou eiendom kan afbetaal. Selfs al sou pryse oor twee jaar daal het jy ‘n redelike voorsprong op jou paaiement. Daar is natuurlik risikos aan enige belegging verbonde. Ons het tydens die resessie baie male sonder huurders gesit of huise teen ‘n verlies uitverhuur. Dinge het egter gedraai en daar is nou ‘n geleentheid vir ons om hiervoor op te maak.”
Fourie sê vrese dat die huismark post-Medupi inmekaar gaan tuimel is ongegrond. “Transnet se aankondiging dat ‘n nuwe spoorlyn vir steenkoolvervoer hier gebou gaan word, die feit dat Richardsbaai hawe vergroot is om grooter steenkoolvragte te hanteer en druk op die regering om elektrisiteit te verskaf om industrië in Suid-Afrika te ontwikkel gaan maak dat Lephalale nog verdere groei beleef. Ek glo dat daar ten minste nog twee kragstasies gebou gaan word en dit maak net sin om dit hier in Lephalale te bou. Dan is daar ook ‘n groot aantal myne wat hier gevestig gaan word.”
Lephalale sakeman, Theo Pistorius, deel nie Fourie se sentiment nie. Hy glo die hoë pryse vir huurhuise skep ‘n kunsmatige mark wat sleg vir die plaaslike ekonomie is.
“Die realiteit is dat hierdie mark nie volhoubaar is nie. Oor drie jaar skaal die Medupi werkersmag vanaf 16 000 tot 700 af, ek glo baie van hierdie huurhuise gaan leeg staan en mense wat belê het in eiendom gaan moontlik swaar trek.”
Gys Grieshaber van Grieshaber prokureurs en eiendomsagente meen soos Fourie dat ‘n derde kragstasie wat na bewering voort sal vloei uit die Medupi-projek kan maak dat die tekort aan behuising, huurpryse nog verder sal opstoot.
“Die probleem is dat elektrisiteit, water en ander dienste nie voldoende is om wooneenhede te bou nie, dit maak dat bestaande eenhede al hoe duurder word.”
Lephalale se munisipale bestuurder, Bob Naidoo, kon teen druktyd nie bereik word om kommentaar te lewer oor die te kort aan dienste vir nuwe huise nie.
Wat huurders betref sê Grieshaber: “Dit is belangrik om aan te dring op ‘n kontrak, wat sal verhoed dat eienaars huurpryse sonder waarskuwing opstoot. Die huur-tribunaal in Pretoria kan ook aan huurders raad en regsadvies gee indien hulle voel dat hulle onregverdig behandel word.”
Hoewel die volhoubaarheid van die groeiende huurmark bevraagteken word is een ding baie duidelik - daar is tans geleentheid vir huiseienaars om voordeel te trek uit die groeiende aanvraag na behuising in Lephalale. Huurders wie se kontrakte verval en moet verhuis is egter in die nadelige posisie om eerstens ‘n beskikbare huis te probeer vind en tweedens nie ‘n arm en ‘n been daarvoor te betaal nie.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube