<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Moordverdagte Fanie was glo 'jolly'

 
Die 42-jarige Fanie word daarvan aangekla dat hy Lizette in die oggendure van 15 Oktober 2006 opsetlik doodgery het. (Foto: Beeld.com)
News : 03 Aug 2012 599 Viewed By Jasper Raats 0

MOKOPANE - Die rondgaande hof in Mokopane het hierdie week ‘n verhaal van surrealistiese gebeure rondom die aand van Lizette Terblanche se dood aangehoor tydens die moordverhoor van haar man, Fanie Terblanche.
Die 42-jarige Fanie word daarvan aangekla dat hy Lizette in die oggendure van 15 Oktober 2006 opsetlik doodgery het. Hy staan ook tereg op drie aanklagte van poging tot moord en een van opsetlike saakbeskadiging. Hy het onskuldig gepleit op al die klagte.
Fanie en Lizette was maar vier maande getroud toe hulle volgens sy tante, Letitia Terblanche die aand by ‘n kuierplek in Polokwane gaan rugby kyk het.
Letitia het vertel dat die drie “gemoedelik” gedrink het, maar dat Fanie “redelik jolly” was. Sy het egter gesê hy was nie “onkapabel dronk” gewees die aand nie.
Op pad terug Mokopane toe moes Fanie kort-kort stop want Lizette was glo naar.
Een van die kere het hy glo aan Letitia gesê: “Die f@#$n vrou, ek moes nooit met haar getrou het nie.”
Maar dit was eers toe hulle naby Letitia se huis op die Percy Five pad so 18km buite Mokopane kom dat dinge regtig skeefgeloop het. Fanie het verby die grondpad na die hoewe waar Letitia woon gery en moes weer stop vir Lizette. Letitia het saam met Lizette uitgeklim.
Sy het aan die hof vertel hoe Fanie ‘n ent aangery het en toe sy Hilux bakkie omgedraai het en reguit op hulle afgery het. “Hy het nie stadiger gery nie. Toe is dit te laat en hy is bo-oor ons.”
Maar Fanie se advokaat, Piet van Wyk, het tydens kruisondervraging gesê Fanie beweer hy het in trurat agteruit gery nadat die twee vroue uitgeklim het. “Toe hy weer voor hom kyk, was hy al verby hulle. Hy het die oorledene in die pad sien lê en ’n persoon wat gebukkend oor haar staan.”
Van Wyk het gesê Terblanche beweer hy het aan Lizette gevat en gevra: “Wat het hier gebeur? Wat de f** het jy met my vrou gedoen?” Sy het nie geantwoord nie. Hy het Letitia toe glo weggestamp, sy vrou in die bakkie gelaai en weggery.
Met die lyk in sy bakkie is Terblanche toe glo na Piet Venter se huis in Mokopane, waar hy ‘n bier gedrink het.  “Ek was bang en onseker. Die man het met ’n geweer in sy hand gestaan,” het Venter getuig. Fanie het hom glo aangesê om nie die polisie te bel nie.
Venter het getuig hy het ’n pistool op die bakkie se paneelbord gesien. Lizette het met haar kop na onder op die vloer van die passasiersitplek gelê. Haar bene was gebuig bo-op die sitplek. Haar bloes was tot by haar middellyf afgetrek en sy was ontbloot.
Maandag het die hof gehoor Fanie was later daardie aand weer na Letitia se huis toe waar hy glo met sy bakkie deur die hekke gejaag het en etlike skote op die huis afgevuur het. Letitia se broer Egbert Greef was saam met haar by die huis.
Terblanche is verlede jaar deur die Zambiese regering aan Suid-Afrika uitgelewer nadat hy in 2008 landuit gevlug het nadat die hof hom op R10 000 borgtog vrygelaat het.
Die verhoor het vir die res van die week voortgeduur.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube