-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Jan en Monica Human van Kameeldoringpark is dalk meer bekend vir hul gastehuis, Jan se vernuf as spuitvlieënier of Monica se tuisgebak as VLU-lid, maar hulle is ook die eienaars en bewoners van Mokopane se eerste huis wat geheel en al op sonenergie en gas funksioneer.
Hul gastehuis in Slegkampsingel se elektrisiteitsrekening beloop elke maand ‘n aardige bedrag. Daarom het die Humans besluit hulle ‘gaan groen’ toe hulle vir hulself ‘n bestuurderswoning op die perseel bou.
Hulle het Janine Coetzer van Switch to Green se hulp ingeroep. Vir haar het dit die geleentheid gebied om van die begin af by die beplanning van ‘n ‘groen’ huis betrokke te wees.
“As ‘n huis eers gebou en by die nasionale kragnetwerk aangesluit is, is kan ‘n mens nie sommer net die kabel na jou huis toe afsny nie, ons installeer ‘n toestel wat letterlik jou meter terugdraai en so die krag wat jou stelsel opwek aftrek van die krag wat jy dalk steeds van Eskom gebruik,” vertel Janine.
Sy verduidelik dat dit nie altyd finansieël sin maak om ‘n bestaande huis geheel en al oor te skakel na sonkrag toe nie. Items soos oonde, geysers en yskaste gebruik baie elektrisiteit en dit kan dalk te duur wees om sulke toerusing te vervang met lae-verbruik toerusting of om genoeg sonpanele en batterye te installeer om hierdie elektrisiteitshongger toerusting aan te dryf.
In die Humans se geval is die huis van die begin af as ‘n ‘groen woning’ beplan. Dus is die yskas is ‘n moderne energie-effektiewe toestel waarvan die pomp nie soos gewone yskaste s’n meer as dubbel sy gewone lading nodig het om aan die gang te kom nie. Die oond en stoof werk met gas en die geyser met sonkrag.
Al die ander huishoudelike toerusting word aangedryf deur ‘n stel sonpanele wat ‘n batterybank laai. Die batterykrag word dan omgeskakel na 220V en enige muurprop in die huis lewer presies dieselfde krag as ‘n huis wat met Eskom-elektrisiteit funksioneer.
Die huis se binne en buiteligte is LED ligstafies wat so min krag gebruik dat die huis se ligte maklik vir meer as ‘n week aaneen kan brand sonder dat die batterybank herlaai moet word. Om alles te kroon is hierdie liggies besonder helder en steek hulle geensins af teen tradisionele beligting nie.
Janine noem dat die warmwater uit ‘n songeyser nie noodwendig so warm gaan wees op ‘n bewolkte dag as op ‘n sonskyndag nie, maar dat die res van die stelsel bewolkte dae gemaklik kan absorbeer. Die batterybank bied genoegsame reserwekrag om die huis deur ‘n onweersdag te dra.
Monica vertel dat die stelsel selfs ‘n kuier van haar kinders en kleinkinders gemaklik oorleef! “Op sulke naweke werk elke kragprop in die huis of dit nou vir die televisie, skootrekenaar of PlayStation is.”
Sy sê sy het nog glad nie gevoel die stelsel perk haar in nie. Sy is vasberade om die gastehuis ook oor te skakel na ‘n soortgelyke stelsel. “Dit sal ‘n paar rand kos om oor te skakel, maar huidiglik beloop die kragrekening duisende rande, en ek sidder om te dink wat ons aan die planeet doen.”
Die Humans het ‘n passie vir volhoubaarheid en selfs die gastehuis se kombuisafval word as kompos herwin en aangewend om die tuin gevoed te hou. “Daar is niks lekkerder as om in die oggend ‘n warm stort te geniet en te weet ons Skepper het die water vir ons gratis warmgemaak nie!”
0 Comments