<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Skote klap voor laerskool

 
News : 17 Aug 2012 205 Viewed By Jasper Raats 0

Johan Stumke van PJP Sekuriteit moes Woensdagoggend op sy voete dink toe twee gewapende rowers skielik op hom skiet terwyl hy en sy kollegas kontant by Laerskool Krugerpark opgelaai het.
Stumke het by die klein hekkie van die skool se hoofingang gewag vir sy kollega wat die skool se kontant by die kantoor gaan haal het.
Die sekurtiteitsmaatskappy kom haal glo van tyd tot tyd kontant by die skool, maar die skoolhoof, Johan Vertongen, sê dit is minimale bedrae en die skool maak bloot om gerieflikheidsredes van hierdie diens gebruik.
Terwyl die ander sekuriteitswag in die kantoor besig was, het Stumke twee swart mans van Bezuidenhoutstraat se kant af op die sypaadjie in Van Riebeeckweg aangestap sien kom. “Ek het nie veel daarvan gedink nie. Dit het aanvanklik nie gelyk of hulle tussen my en ons geldwa gaan deurstap nie,” vertel hy.
Maar een van die mans het toe skielik van rigting verander en toe Stumke vorentoe tree en aan hom beduie om aan die ander kant van die geldwa om te stap het die man ‘n pistool uitgepluk en ‘n skoot op hom geskiet. “Ek het dadelik op my sy platgeval terwyl ek my pistool uit sy skede getrek het.”
Intussen het ‘n wit 5-reeks BMW met ‘n Gauteng registrasienommer uit Van Heerdenstraat se rigting aangery gekom en voor die skool parkeer.
Stumke het oor die pad gevlug terwyl die tweede rower met ‘n R5 Geweer ook op hom geskiet het. Hy het teruggeskiet en glo hy het die een wat eerste met die pistool op hom gevuur het, gewond voordat sy wapen gestoor het en nie meer wou skiet nie. Die twee mans het in die BMW gespring en weggejaag. Stumke sê daar was ook ‘n donkerkleurige bakkie wat agter die BMW aangery het. Die BMW is later in ‘n oop veld in die Nylpark-omgewing gekry waar die rowers dit gelos het.
Die skool se tuinier het vertel hoe hy die wit BMW kort voor die rooftog voor die skool sien verbyry en hoe dit die twee rowers op die hoek van Van Riebeeck en Bezuidenhoutstraat afgelaai het.
‘n Polisiespeurder op die toneel het aan Noordelike Nuus gesê dit is danksy die sekuriteitsmaatskappy se streng en gedissiplineerde prosedures en Stumke se slim optrede dat die rooftog misluk het en dat geen skoolpersoneel of kinders beseer is nie. Deur oor die pad te hardloop het Stumke seker gemaak die rowers skiet nie in die skool se rigting nie.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube