-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
POLOKWANE - ‘n Spesiale vergadering om die krisisafmetings van renosterstropery in Limpopo te bespreek is verlede Woensdag by die polisie se streekskantore in Polokwane gehou. Volgens statistieke wat onlangs bekend gemaak is, is twee keer meer renosters in 2012 gestroop in vergelyking met dieselfde tydperk in 2011. Meer as 300 renosters is reeds sedert Januarie 2012 in Suid-Afrika gestroop.
Die vergadering wat gelei is deur die provinsiale adjunk kommisaris vir polisiëering, Majoor Generaal Benny Nltemeza is deur renosterboere en polisielede van regoor die provinsie bygewoon.
Gawie van Zyl, wat Agri-Limpopo by die vergadering verteenwoordig het, sê hy was baie teleurgesteld oor die onproduktiewe wyse waarop die vergadering hanteer is. “Generaal Ntlemeza wat die vergadering moes lei, het kort nadat sowat 100 persone hulself aan mekaar moes voorstel, die vergadering verlaat. Op daardie stadium was nog geen van die sake op die sakelys bespreek nie.”
Agri-Limpopo het die wettiging van renosterhoringhandel of die subsidiëering van termiese kameras as moontlike oplossings voorgehou, maar die polisie was nie in staat om daarop te reageer nie. Volgens van Zyl was daar baie min renosterboere van die Waterbergstreek by die vergadering.
By ‘n onlangse landelike veiligheids vergadering in Lephalale het die streeksbevelvoerder, Lt. Kol M.R. Matlou gesê dat boere in die omgewing huiwerig is om inligting rakende renosters te gee. “Die polisie weet nie watter plase renosters, olifante of selfs leeus het nie. Dit is verstaanbaar dat boere weens die hoë voorkoms van renosterstropery skrikerig is om inligting deur te gee, maar dit maak dit vir die polisie baie moeilik om die situasie te monitor.”
Intussen is daar is daar by verlede Woensdag se vergadering besluit om ‘n komitee saam te stel wat renosterstropery in Limpopo sal ondersoek en moontlike oplossings bespreek.
Van Zyl doen ‘n beroep op renosterboere en lede van jagtersverenigings om hulself hiervoor beskikbaar te stel deur hulle name voor Woensdag deur te gee aan Brigadier Mkhabela of Kaptein Nelufule by
015 292 9425.
0 Comments