<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Reis saam deur die erfenis van Mokopane

 
News : 25 Sep 2012 1012 Viewed By Jasper Raats 0

MOKOPANE - Die maand September word nasionaal gevier as Erfenis- sowel as Toerisme-maand.  Hoe bewus is Mokopane van die erfenis en geskiedenis van hierdie omgewing? Het inwoners al toeris gespeel in hul eie omgewing?
Mokopane spog met beide kulturele en natuurlike besienswaardighede. Erfenis is waardevolle voorwerpe en eienskappe soos kulturele tradisies, ongerepte natuur en historiese geboue wat dateer van vorige geslagte.
Ons skop ons toer hierdie week af met ‘n ‘besoek’ aan die Makapan Grotte. Hierdie unieke erfenis terrein is geleë ongeveer 23km noord-oos van Mokopane op die R101 na Polokwane. Die Makapan vallei vertel die geskiedenis van die Ndebele mense asook die weerstandsoorloë wat plaasgevind het meer as 151 jaar gelede. Meer belangrik is egter die uitgebreide kulturele en paleontologiese deposito’s wat in die grotte gevind is. Hierdie ontdekking het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die bevordering van ons begrip van die evolusie van die mens en die verskyning van die moderne mens.
Die Grot van die Vuurmaakplekke is een van slegs twee terreine in die Steentydperk in die wêreld wat ‘n ononderbroke volgorde van artefakte bevat van die Vroeë Steentydperk tot die Latere Steentydperk. Die eerste tekens van menslike bewoning in die Makapan vallei dateer terug na die 17de eeu.
Die Grot van Gwasa een van historiese grotte in Limpopo was ‘n terrein van herhaalde konflikte.
In 1854 het hoofman Makapan en ‘n paar duisend lede van die Kekana groep in hierdie grot weggekruip na ‘n aanval op ‘n groep Voortrekkers by Moorddrift. Bekendes wat hier betrokke was, was Piet Potgieter en Paul Kruger.
Die terrein is verklaar as ‘n Wêreld Erfenis gebied as gevolg van die kulturele en natuurlike erfenis van meer as 3,3-miljoen jaar wat hier voorkom.
Besoeke na die fassinerende Makapan’s vallei moet vooraf gereël word deur die Mogalakwena Gemeenskaps Toerismevereniging. Die Makapan GrotteMakapan Grotte het ‘n ooreenkoms met die Mokopane Biodiversiteits Bewaringsentrum (Wildteelsentrum) wat die besprekings namens die Toerismevereniging hanteer.
Belangstellendes moet die sentrum ten minste een dag voor die beplande besoek skakel sodat die nodige gidse gereel kan word. Gidse werk op ‘n vryskut basis. Toegangsfooie is as volg: volwassenes R25, pensionarisse R15, skoolgaande kinders R10 en voorskoolse kinders kry gratis toegang. Die sentrum kan gekontak word by 015 491 4314.
Besoekers betaal by die Mokopane Biodiversiteits Bewaringsentrum en moet dan met eie vervoer na Makapansgrotte gaan.
Inwoners met inligting oor erfenis gebiede en moontlike toeriste besienswaardighede in die Mokopane area kan gerus vir Elaine kontak by 015 409 7064 of stuur ‘n e-pos
aan: cal@telkomsa.net.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube