-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Met die skerp styging van die brandstofprys verlede week volg die onvermydelike styging van verbruikersprodukte, soms met vergrypende hoë persentasies.
Vleis is die een item wat deur die dak geprys word en gevolglik deesdae eerder op ‘n wenslys as op ‘n inkopielys verskyn.
Dus maak dit sin om die beste vleis te koop wat die beursie toelaat. A-klas vleis is jong, sagte vleis en word gewoonlik met blou ink gemerk, B-graad vleis het ‘n groen inkmerk en is minder sag en C-graad is nog minder sag omdat dit ‘n ou dier was en word met rooi ink gemerk. Die prysklasse verskil gewoonlik volgens die gradering.
Die Suid-Afrikaanse vleisbedryf is staatsgereguleerd en stel spesifieke standaarde om kwaliteit te verseker. Op provinsiale vlak is die Departement Landbou (Veeartseny Volksgesondheid) verantwoordelik vir die goedkeuring van abattoirs.
‘n Sertifikaat van goedkeuring moet sigbaar aangebring word in ‘n abattoir.
Volgens die provinsiale inspekteur, Cobus Nel, het Lephalale tans drie goedgekeurde abattoirs, maar nie alle plaaslike vleis is van hulle afkomstig nie. ‘n Ronde stempel op die voor- en agterkwarte van karkasse is ‘n aanduiding van vleis wat uit ‘n goedgekeurde abattoir kom. Verbruikers sal dit nie noodwendig op rooivleis verpakkings in winkels sien nie omdat die vleis na kleiner hoeveelhede verwerk word, maar ‘n abattoir stempel moet volgens wet op alle verpakkings van hoendervleis verskyn. (Sien foto)
Vleis wat nie volgens wetgewing verwerk word nie hou groot gesondheisprobleme in as gevolg van besmetting met lintwurms en bakterieë wat tuberkulose en brucellose veroorsaak.
Volgens Nel is die wetgewing op alle vleis, insluitende wildsvleis wat aan die publiek verkoop word, onderhewig aan dieselfde wetgewing. Wildsvleis gaan waarskynlik binnekort aan verdere nuwe wetgewing onderwerp word wat onder meer bepaal dat gejagte diere geïnspekteer en goedgekeur moet word voordat dit in ‘n slaghuis verwerk sal mag word.
0 Comments