-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Lukas van der Westhuizen (37) het Saterdagoggend gou die huur gaan betaal vir die ruim tuinwoonstel waar hy en sy gesin in Pretoriusstraat woon. Daarna het hy kruideniersware gaan koop en ook ‘n stelletjie tweerigting radio’s vir sy seun Jaun-Jacques wat volgende Vrydag 11 jaar oud word. “Ek moet alles maar op ‘n Saterdag doen, want in die week werk ek,” vertel hy.
Maar die kruideniersware, die verjaarsdagpresent en selfs die huis wat hulle huur, is vernietig tydens ‘n brand Saterdagaand. Nou is hy, sy vrou Natasha (34) Jaun Jacques en hul oudste seun, Richard-Dean (16), sonder heenkome. Die laaste week al krap hulle bedags in die as rond en kyk of daar ‘n kledingstukkie of iets is wat hulle kan red en saans slaap hulle by Natasha se ouers oor.
Niemand weet presies hoe dit gebeur het nie, maar die bure het gesien hoe iemand ‘n Volkswagen kewer op die werf aan die brand steek. Die kewer lê aan die hart van ‘n onderonsie tussen Natasha se twee broers.
Natasha vertel haar pa het die kewer vir haar een broer reggemaak wat dit by sy ander seun gekoop het. “Die karretjie was nou sotesê klaar,” voeg Lukas by.
‘n Klag van brandstigting word ondersoek.
Die enigste een van die Van der Westhuizen-gesin wat gesien het toe die man wat daarvan verdink word dat hy die brand gestig het by die huis opdaag, is klein Jaun-Jacques. Hy was die aand by die bure besig om te pak vir ‘n uitstappie na Arabiedam waar hulle die volgende oggend by sy ouboet en vriende wat reeds daar was sou aansluit.
Lukas en Natasha het na die Engen langs Wimpy se gerieflikheidswinkel toe gestap. Lukas bel altyd sy ouers van die foonhokkie daar af omdat dit goedkoper is as om van die selfoon af te skakel. “Wanneer ons winkel toe loop moet ek kort-kort rus, so ons was vir ‘n geruime tydjie weg,” vertel Natasha.
Sy ly aan ‘n kondisie wat veroorsaak dat haar rugwerwels verbrokkel en kan nie lank regop staan of loop nie. Hiervoor moet sy binne die volgende ses maande ‘n operasie ondergaan.
Boonop het Natasha nou al vir meer as 10 jaar las van ‘n operasiewond wat nie wil genees nie. “Na Jaun-Jacques se geboorte moes ek myself laat steriliseer omdat dokters gewaarsku het dat my liggaam nie nog ‘n swangerskap sal oorleef nie. Die dokter het ‘n stukkie gaas in my buikgedeelte vergeet en sedertdien moes ek al talle operasies ondergaan omdat ek elke keer infeksie kry en die wond dan weer oopgaan,” verduidelik sy. “Ons is al so moedeloos. En dan gaan brand ons huis ook nog af.”
Maar teen Woensdagoggend was daar darem weer ‘n flikker van hoop vir die Van der Westhuizens. “EH Hassims, by wie ons die woonstel gehuur het, het laat weet dat hulle vir ons ‘n ander huis het om te huur,” het Lukas laat weet.
Hulle het egter bitter min om saam te vat na hul nuwe huis toe. Daar was ‘n paar kartonbokse met goed wat hulle nie gebruik het nie wat in ‘n buitekamer gestoor was en hulle het teen Dinsdagmiddag nog probeer om van die klere wat in die kinders se kamer was en nie gebrand het nie te red. Die kinders se kamerdeur was toe, en hoewel dit lyk of die vuur nie daar ingekom het nie, is byna alles gesmelt en pikswart van die roet.
Die Van der Westhuizens sê hulle is nou verby die punt van trots wees. Hulle vra dat enigiemand wat kan help met meubelment, klere, kombuisware of selfs skryfbehoeftes vir die kinders, asseblief met hulle in verbinding tree. Lukas kan geskakel word by 082 056 6485.
0 Comments