-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Met drie lede van die Limpopo Praktiese Skietklub in die span het die vier Suid-Afrikaanse skuts wat onlangs aan die Internasionale Praktiese Skiet Konfederasie se eerste haelgeweerskiet wêreldkampioenskappe in Hongarye gaan deelneem het, hul baie goed van hul taak gekwyt toe hul negende in die Standaard Haelgeweer afdeling geëindig het.
Uit die 118 deelnemers wat aan die standaard ope-kompetisie deelgeneem het het Jan Bondesio van MJ Wapens in Mookgophong algeheel 24ste geëindig met Paul Eksteen van Lekana Shooting Academy in Polokwane in die agt-en-twintigste ste plek. Tommy Glover van Gauteng was 40ste en Thinus Botha – ook van Polokwane was 45ste.
“Dit was ‘n fantastiese ervaring,” het Bondesio verlede week vertel. “Ons het gegaan met die hoop om onder die Top 20 te eindig en dus al ons verwagtinge oortref.”
Hy verduidelik dat dit vir die Suid-Afrikaners ‘n groot prestasie was om so goed te vaar. “Die ander lande, veral in Europa, skiet gedurig teen mekaar en is deurentyd blootgestel aan nuwe tegnieke en tegnologie.”
Bondesio sê hulle was veral beïndruk deur die Finne se laaitegnieke. “In SA het ons tot nou toe byna geen blootstelling gehad aan internasionale skietkompetisies op dié skaal nie. Ons moes maar staatmaak op wat ons van die internet af kon leer.
Hy het wel vroëer vanjaar in Bulgarye aan die Semi-Automatiese geweerskietkompetisie deelgeneem. Daar het hy nie as lid van die SA Span deelgeneem nie, maar as individuele deelnemer ‘n 50ste plek behaal.
“In SA is Limpopo beslis aan die voortou van praktiese geweer en haelgeweerskiet,” sê Bondesio. “En ons het nou maar eers begin om ernstig internasionaal te kompeteer.”
Hy meen dat die sport wêreldwyd ‘n blink toekoms het ten spyte van politieke teenkanting vanaf anti-vuurwapen organisasies.
Hoe werk dit? Praktiese skiet behels die opstel van ‘n baan waar skuts vanuit verskillende posisies op strategies-geplaaste teikens binne ‘n beperkte tyd moet skiet. In SA is bane geneig om groter te wees en skuts moet dikwels van een posissie na die ander hardloop. Eoropese bane is kleiner en beweging is dikwels beperk, verduidelik Bondesio.
0 Comments