<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

'n Sagte plek vir goue oues

 
News : 26 Oct 2012 211 Viewed By Jasper Raats 0

Nie baie mense weet wie is Bennie Venter nie – totdat jy verduidelik dis die ou met die rekkie in sy baard. “O ou Bennie,” sê hulle dan en wil sommer dadelik weet watter kleur gaan sy hare by hierdie jaar se Brille, Pille en Wielewfees wees. “Pers. Nee Turqoise, sê Bennie terwyl hy met Noordelike Nuus gesels oor sy betrokkenheid by die fees.
Dit het begin toe vier bikers een middag by die ou Orinoco Hotel in Mokopane begin gesels het oor hoe bevoorreg hulle is om daar te kan sit en ‘n drankie geniet terwyl baie mense nie eens die basiese lewensnoodsaaklikhede kan bekostig nie, wat nog te sê ‘n koue bier.
“Ons het sommer daar en dan besluit om vir Mariaan van Tonder by die ouetehuis te gaan sien en te hoor wat hulle nodig het en hoe ons kan help,” vertel Bennie Venter, een van die vier.
“Daai tyd was daar ‘n behoefte aan sagte kombersies en sagte speelgoed om vas te hou vir die bejaardes in die tehuis se Kosmos afdeling. Dit is die spesiale sorg afdeling waar mense wat voltydse verpleging nodig het woon,” sê hy.
“Ons het al die motorfietsryers wat ons in die hande kon kry geskakel en ‘n uitstappie na die ouetehuis gereël waar elke ryer ‘n kombersie of sagte dingetjie of twee geskenk het.”
Uit die sukses van hierdie uitstappie het dit duidelik geraak dat motorfietsryers ‘n groot rol kan speel in die versorging van die dorp se oumense. Bennie en Mariaan het koppe bymekaar gesit en gesels oor ‘n gereelde langtermyn samewerkingsinisiatief.
Daar is besluit dat die tehuis se volgende basaar met ‘n biker saamtrek gekombineer sal word en so is die Brille, Pille en Wielefees sewe jaar terug gebore. Die eerste jaar was daar 75 motorfietse en het die fees ‘n obrengs van R38 000 gelewer. Verlede jaar is daar ‘n rekord R103 000 ingesamel.
Hierdie fondse is broodnodig en help die tehuis om staande te bly ten spyte van staatsbydraes wat elke jaar minder word.
“Baie van ons inwoners kan nie eens hul verblyfskoste hier betaal nie, om nie eens te praat van medikasie, doeke en etes nie,” vertel Mariaan wat aan die stuur van die tehuis staan.
“As dit nie vir die fondse was wat ons insamel met die Brille, Pille en Wielefees nie, sou ons baie van die dorp se armste bejaardes eenvoudig moes wegwys,” het sy na afloop van verlede jaar se fees aan Noordelike Nuus gesê.
Bennie sê hy is bietjie bekommerd oor die huidige ekonomiese situasie. Ander soortgelyke projekte waarby hy betrokke is se inkomste het hierdie jaar so effe afgeneem, verduidelik hy.
“Maar die Brille en Pille is nie sommer enige biker saamtrek nie, en hierdie jaar het ons vir Flooze hier.”
Bennie en Sorina of dan ‘Flooze’ is nie vreemdelinge vir mekaar nie. Hulle het al dikwels die mikrofoon gedeel by motorfiets saamtreke waar hy as serimoniemeester optree terwyl sy ‘n blaaskans vat.
Tussen die twee van hulle gaan hulle volgende Saterdag sorg dat die verwagte 300 bikers hierdie jaar tuis voel en die dag saam met die dorp en sy bejaardes geniet.
Om 11:00 vertrek die motorfietsryers op ‘n massa-rit deur die dorp en dan sluit die bejaardes in rolstoele op die roete by hulle aan. Daarna word bejaardes op pretritte geneem deur die dorp, terwyl die wat agterbly deur ‘n waaghals op ‘n motorfiets vermaak word.
Die prysuitdeling vind om 13:00 plaas. Die dag sluit ook in heerlike kosstalletjies, gebak en naaldwerk, teetuin en taverne – meestal deur senior burgers self beman. Ontbytkaartjies is beskikbaar by die tehuis in Hoogestraat 60 teen R50 per persoon.
Vir enige navrae skakel Mariana van Tonder of die kantoor by 015 491 6314 of vir Bennie Venter by 084 657 1112.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube