-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ek wil amper soos wyle Jan Spies in die Cremora advertensie begin met “‘n Vies kêrel verwyt my die ander dag...” omdat die Noordelike Nuus nie meer die klein dorpskoerantjie is waarvan hy so baie gehou het nie.
Ek het amper op my rug geval. Dit is die eerste keen in byna ‘n jaar vandat die Noordelike Nuus en die Bosveld Bulletin saamgesmelt het dat ek iemand hoor kla omdat hy nou meer nuus gratis kry. As ‘n reël kry ons byna weekliks lesers wat ons vertel hoe geniet hulle dit om te weet wat in die Bosveld aangaan – ook buite hulle eie dorp of distriksgrense.
Selfs ons adverteerders kan nie uitgepraat raak oor die goeie terugvoer wat hulle op ons advertensies kry nie. Een motorhandelaar in Polokwane het ons verlede maand gevra om asseblief sy selfoonnommer uit die advertensie te haal voor ons dit weer plaas. Hy het glo weke na sy eerste advertensie in die Noordelike Nuus nog oproepe gekry oor die motors wat hy adverteer het.
‘n Algemene handelaar van Mokopane was weer bekommerd dat selfs ongeletterde mense sommer die koerant vat omdat dit gratis is. Hy maak toe sy arme vrou een hele Vrydag by die Mokopane Mall staan en kyk watter tipe mense vat die Noordelike Nuus. Na dese gaan daar nie sommer ‘n week verby wat dié handelaar nie by ons adverteer nie.
“Mense loop amper in mekaar vas soos hulle die koerant loop en lees die oomblik wat hulle dit uit die mandjie vat,” vertel sy vrou.
Oor een klagte gee ek ons lesers gelyk: Dit lyk nie of daar ooit genoeg eksemplare van die Noordelike Nuus vir almal gaan wees nie.
Op ‘n Maandag is ‘n mens baie gelukkig as jy by een van ons vele verspreidingspunte nog een van Mokopane se 4 000 koerante kan kry. In Lephalale gaan dit ook so en dié dorp moet sy 4 000 eksemplare boonop met baie van die Bosvelddorpies soos Steenbokpan, Swartwater en Marken deel.
Nou waar anders kry jy ‘n koerant wat so wyd so populêr is! Dankie aan elkeen wat ons ondersteun en lees!
0 Comments