-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
’n Dag van pret en plesier by Klein-Kariba se gewilde Studentejol het vroeër vandeesweek vir ’n groep tieners van Randfontein in ’n nagmerrie ontaard toe ’n Parachute Rocket-toring omgeslaan het.
Agt tieners is ná die ongeluk deur Tromar-ambulansdiens se paramedici met beserings na die Bela-Bela-hospitaal op die dorp gebring. Van die beseerde jong mense is later ook na hospitale in die Randfontein-omgewing aan die Wes-Rand oorgeplaas.
Twee matriekleerders van Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein is ernstig beseer. Hulle is Estelle (Stella) Vorster (18) en Lisl van Zyl (18).
’n Merkbaar ontstelde Zandré Janse van Vuuren (18) het op Maandag, 3 Desember, ná die voorval vertel sy en haar skoolmaats het in die toring opgestyg. “Die toring het skielik gekantel en ons het almal geval. Van ons het bo-op mekaar beland en het as gevolg daarvan baie seer gekry. ’n Oom wat buite gestaan het en die ongeluk gesien gebeur het, het die plastiek oopgesny om ons uit die toring te bevry. Hy het ook hulp ontbied.”
Nog beseerdes is Chanté Nieuwenhuizen, Robert Williamson (18), wat sy nek en rug beseer het, en Michael Pelser wat ook sy rug beseer het. Wayne Williamson (25), wat die leerders van Hoërskool Jan Viljoen na die oord vervoer het, se linkerbeen is gebreek.
Bruce Stoltz, Stella se vriend, het gesê “Stella het baie seer gekry. Ek was juis op pad na Bela-Bela om ’n ogie oor die klomp jong mense te gaan hou, toe ek ’n oproep ontvang het om my in te lig dat sy ernstig seergekry het”.
Chanté het vertel sy het ’n voorgevoel gehad.
“Ek was baie bang en wou nie in die toring opgaan nie. Toe die toring val, het ek vreeslik geskree. Toe ek op die grond land, het ek gevoel ek kry nie asem nie. Ek was baie benoud en het asemnood gehad,” het sy vertel terwyl trane oor haar wange geloop het.
Wim de Wet, oordbestuurder van die ATKV se Klein-Kariba, het gesê daar was ten tyde van die ongeluk sowat 800 matrieks en studente by die oord vir die Studentejol.
Hy het gesê hoewel Tromar sy diens op Vrydag, 30 November, gestaak het, het sy paramedici onmiddellik gaan help toe hulle van die ongeluk by Klein-Kariba in kennis gestel is.
“Ons het onmiddellik al die ouers gekontak en het onmiddellik met ’n ondersoek na die voorval begin.
Piet Gouws en vennote doen die ondersoek. Hulle vlieg vandag in om die ondersoek te doen om presies vas te stel wat verkeerd gegaan het,” het De Wet gesê.
“Ons beskou dit as ’n fratsongeluk en betreur die feit dat die ongeluk gebeur het. Ons is egter baie dankbaar dat daar nie erger beserings was nie.”
Die beseerde tieners het vertel sowat agt mense word in dié Parachute Rocket-toring in ’n sitplek vasgemaak. Die sitplekke word dan met lug sowat 6 meter hoog die lug in geblaas. Wanneer die toring se deur aan die onderkant oopgemaak word, val ’n mens teen ’n vinnige spoed na onder.
Van die tieners wat die ongeluk gesien gebeur het, het beweer die toring was nie ordentlik geanker nie en daarom het dit omgekantel. Dié bewerings is teen druktyd nog nie gestaaf nie.
Van die beseerde kinders het by die hospitaal gesê hul ouers is baie ontsteld oor die voorval en oorweeg regstappe.
- LiN Media/Die Pos
0 Comments