-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Tydens LiN Media se glans toekenningsfunksie by Letaba River Lodge in Tzaneen, het Valerie Cilliers ‘n tweede plek behaal in die afdeling vir Menslike Nuus Artikels met haar storie oor Steve Hofmeyr se besoek aan Lephalae tydens die Bosveldfees. “Persoonlike weergawes van ’n storie is belangrik vir plattelandse koerantskrywers - Valerie Cilliers se onderhoud met Steve Hofmeyr is hier ’n goeie voorbeeld,” het die beoordelaars in hul kommentaar gesê.
Die wenartikel in hierdie afdeling ‘Boerdery is my hobby’ is geskryf deur Ingrid Pepler van Die Pos. Andries van Zyl van die Zoutpansberger het die derde plek verower.
In die harde nuus en plaaslike regeringsafdeling het beide Jasper Raats en Valerie Cilliers spesiale vermeldings ontvang.
Maar dit is nie net Noordelike Nuus se redaksie wat in goeie hande is nie. Dolla Koltzöw het in die mediumgrootte en volblad advertensieontwerp afdeling derde plekke behaal vir haar treffende advertensies vir Le Café des Sport en die insamelingskonsert wat vir Pippie gehou is. Michelle Schoeman het ook ‘n spesiale vermelding in die medium advertensieontwerp afdeling ontvang.
“Ons is baie trots op ons toekennings, veral omdat dit in die afdelings was waarvoor daar die meeste inskrywings was,” het Noordelike Nuus redakteur Jasper Raats na afloop van die toekenningsfunksie gesê.
LiN Media is ‘n sambreelorganisasie wat nege van Limpopo se top gemeenskaps koerante se belange op die hart dra. Die organisasie beywer hom vir die opheffing uitbou van onafhanklike plaaslike koerante buite die nasionale media groepe.
0 Comments