-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
‘n Verdagte wat op 11 November gearresteer is op aanklag van diefstal van sonpanele ter waarde van R40 000, se saak is deur die staatsaanklaer uit die hof gegooi weens ‘n gebrek aan bewyse. Dit ten spyte van die feit dat die persoon se voetspore hom op die toneel plaas en die feit dat hy bereid was om drie medepligtiges uit te wys.
Die arrestasie is gemaak toe spoorsnyers van die gemeenskap op die gesteelde sonpanele afgekom het en twee van Molalaltau Sekuriteit se spoorsnyers die verdagte se spoor van daar gevolg het tot by sy plaaswerkershuis daar naby. Die verdagte was volgens Molalaltau Sekuriteit bereid om die name van drie ander verdagtes bekend te maak. Vingerafdrukke wat deur die polisie se forensiese afdeling van die sonpanele gelig is kon ook gebruik word om al vier skuldig te bevind al dan nie.
Dit het egter die week aan die lig gekom dat die verdagte vrygelaat is en dat die drie uitgewysde verdagtes nooit gearresteer is nie.
Aldo Venter van EZT Communications wat die saak by die polisiestasie geopen het sê hy het ‘n sms ontvang op 14 November om te sê dat die ondersoek bepampte Sersant RP Selokela is (saaknommer CHS216/11/2012). Venter het Selokela die volgende dag gebel en gevra of die persoon nog in hegtenis is of nie, hy het ook vir hom die inligting deurgegee van die ander drie verdagtes. Selokela het hom meegedeel dat die persoon nog nie in die hof verskyn het nie en dat hy hom op hoogte sal hou van die saak. Geen verdere terugvoer is ontvang nie. Venter het Selokela weer op 23 November geskakel en is meegedeel dat die verdagte vrygelaat is sonder dat enige rede verskaf is. Venter het hom na bewering ook gevra wat dan van die ander drie verdagtes geword het, waarop hy geen antwoord ontvang het nie.
Die saak word tans deur die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ondersoek en indien voldoende antwoorde nie verkry word nie sal die saak na die NPA verwys word. Voorsitter van die GPF, Thys Eloff, sê indien die polisie hulle werk gedoen het sou die verdagte en die ander drie wat aan die polisie uitgewys is steeds inhegtenis wees.
Theo Pistorius van Molalatau Sekuriteit stem saam. “Die realiteit is dat die ondersoekbeamte verantwoordelik is vir die saak. Hy moet toesien dat alle relevante inligting ingesamel word. Hier praat ek van forensiese getuienis soos vingerafdrukke, gipsafdruk van die spoor en verklaring waarin die spoor vergelyk is met die skoen. Die ander inligting met verwysing na die verdagtes, die arrestasie of ten minste die ondervraging of registrasie van ‘n navraag om die inligting te bevestig moes gedoen geword het.
“Molalatau Sekuriteit se Hendrik Manyeke wat die spoor gevolg het se verklaring moes geneem gewees het en as getuie gedagvaar word vir die saak, wat ook nie gebeur het nie. Dit dui vir my daarop dat die polisie nie hulle werk op die toneel gedoen het nie.”
In reaksie op die voorval het die hoof van die speurafdeling, Kapt. RL Sekhukhune, die week gesê hy sal persoonlik ondersoek instel om vas te stel waarom vingerafdrukbewyse nie ingedien is nie en waarom die ander drie verdagtes nooit ondervrae is nie.
0 Comments