-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die spreekwoord, “kennis is mag” het ‘n daaglikse realiteit vir die gemeenskap van Lephalale geword. Sedert die Medupi stakings middel Januarie dreig om dié Bosveldgemeenskap in chaos te dompel word Facebook blaaie gereeld deur die publiek nagegaan om soveel moontlik inligting in te win.
Mense voel bemagtig as hulle weet wat om hulle aangaan en tradisionele media kan amper nie byhou met die spoed waarteen inligting op sosiale medianetwerke versprei word nie.
Enkele minute nadat ‘n Eskom voertuig verlede Donderdagaand tydens protesaksie in Marapong aan die brand gesteek is, was ‘n foto daarvan op Twitter beskikbaar.
Hoewel die onmidelikheid van sosiale media onmiskenbaar is, is die betroubaarheid van inligting nie altyd wat dit moet wees nie. Inligting is dikwels eensytig en gebasseer op hoorsê. Kenners waarsku ook dat sosiale medianetwerke soos Facebook gebruikers laat voel dat hulle amper enige iets mag sê. Min is egter daarvan bewus dat hulle toerekeningsvatbaar is vir die kommentaar wat hulle lewer.
Professor Tameshnie Deane, ‘n mediareg dosent by Unisa, het hierdie week aan Noordelike Nuus gesê dat vryheid van spraak, soos wat dit in die grondwet vervat word, nie haatspraak of rassistiese kommentaar insluit nie. Uitlatings wat iemand tot geweld kan aanhits is onwettig en persone wat sulke uitlatings maak kan strafregtelik vervolg word.
Sy verduidelik dat net soos wat die liedjie “Skiet die boer” as haatspraak geklasifiseer is kan sekere uitsprake soos dié wat aan haar vanaf ‘n bekende Facebookblad in Lephalale voorgehou is, ook as haatspraak geklasifiseer word. Sou iemand ‘n saak teen die outeur van die kommentaar maak, kan hy of sy van haatspraak en aanhitsing tot geweld aangekla word.
Volgens Deane is haatspraak enige neerhalende woorde oor individue of groep gegrond op ras, godsdiens, etnisiteit, geslag of seksuele voorkeur.
Sy waarsku dat kommentaar veral op sosiale media wyd en ver gesien kan word. Sy meen dat sou ‘n persoon geweld teen ‘n individu of groep aanmoedig en daar later wel geweld gepleeg word, so ‘n persoon verantwoordelik gehou kan word. Sy maan dat gebruikers van sosialemedia netwerke baie versigtig moet wees met die kommentaar wat hulle lewer.
0 Comments