-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Noord-Gauteng Hooggeregshof het verlede Donderdag gelas dat die Minister van Polisie R220 000 skadevergoeding aan ‘n man moet betaal wat ‘n Junie 2010 onregmatig by die Beitbruggrenspos gearresteer en aangehou is.
Regter H. J. de Vos het dié bevel gemaak in die siviele saak van mnr. Glifford Victor Cope, ‘n 36-jarige ambagsman, teen die Minister van Polisie.
Cope is na sy arrestasie in ‘n vraghouer, wat as tydelike sel omskep is, ses dae lank saam met tot 26 ander gevangenes aangehou by die polisiestasie in Musina. Die vraghouer was volgens Cope bedompig en snags yskoud. Ten spyte daarvan het hy aanvanklik geen beddegoed gekry nie en moes hy soos ‘n sardientjie in ‘n blik langs sy mede-aangehoudenes op die plankvloer slaap. Hy is nie toegelaat om enigiemand te skakel om hom by te staan nie en sy werkgewer het eers ná vier dae daarin geslaag om vas te stel dat hy in die polisieselle in Musina aangehou word.
Die vraghouer waarin Cope aangehou is, was vuil, die toilet onbruikbaar en die water wat vir die aangehoudenes beskikbaar was, was te vuil om te drink. Cope is ten spyte van sy versoeke nie binne 48-uur voor die hof gebring soos wat deur die Strafproseswet bepaal nie en is eers na ses dae deur bemiddeling van ‘n prokureur wat deur sy werkgewer aangestel is, vrygelaat. Hy is daarna met gastritis gediagnoseer en moes binne-aarse behandeling ontvang. Benewens die R220 000 skadevergoeding, is die Minister van Polisie gelas om ook Cope se regskoste te betaal, asook 15,5% rente per jaar op die skadevergoeding vanaf 23 September 2010.
Cope het gesê hy is verlig dat die saak afgehandel is.
- LiN Nuus / Zoutpansberger
0 Comments