<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Pippie help nog ‘n brandkindjie

 
Celiwe Maseko (5) van Northam in Limpopo het einde verlede jaar op haar maag, rugen bobene gebrand toe ‘n brandende vuurhoutjie op haar rok geval het.
News : 04 Mar 2013 241 Viewed By NoordNuus reporter 0

Die Pippie se gesiggie fonds wat verlede jaar gestig is om fondse in te samel vir klein Pippie Kruger van Lephalale nadat sy derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen het, gaan nog ‘n brandslagoffertjie help.
Celiwe Maseko (5) van Northam in Limpopo het einde verlede jaar op haar maag, rug en bobene gebrand toe ‘n brandende vuurhoutjie op haar rok geval het. Die rok het onmiddelik aan die brand geraak en Celiwe het huis toe gehardloop, waar haar ma, Katlego Maseko haar in vlamme aangetref het.
Pippie se ma, Anice vertel dat Dr. Ridwan Mia, Pippie en nou ook Celiwe se plastiese chirurg, haar van die dogtertjie vertel het. “ Ek glo dat die Here klein Celiwe op ons pad geplaas het en ons is baie opgewonde om haar te kan help.”
Pippie het in Junie verlede jaar die eerste Suid-Afrikaanse pasiënt geword om ‘n veloorplanting te kry van vel wat van haar eie selle gekloon is. Geld vir die operasie is van regoor die wêreld ingesamel en die Krugers het van die begin af gesê dat hulle graag ook ander brandslagoffers sal wil help. Volgens berigte in die Beeld sal die fonds R240 600 skenk vir Celiwe se operasie.
Katlego het hierdie week aan Noordelike Nuus gesê dat Anice en Pippie vir haar ‘n groot inspirasie is. “Ek was eers baie bang, maar nadat Anice en Dr. Mia die proses aan my verduidelik het voel ek rustiger. Daar is nou hoop vir my dogtertjie.”
Anice vertel dat die finale dokumentasie reeds geteken is en dat Celiwe se vel binne die volgende week na Genzyme se laboratorium in Boston gestuur sal word om daar gekloon te word. “Sy behoort binne die volgende maand die veloorplanting te kry,” vertel sy.
Intussen gaan dit baie goed met Pippie en terwyl Noordelike Nuus met ma Anice gesels eet sy heerlik aan ‘n bak Pronutro voor haar swemsessie by die gymnasium begin. En as sy haar naam hoor glimlag sy van oor tot oor.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube