-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die eienaars en bestuurders van slaghuise is dit eens dat hulle gehalte vleis verkoop en dat hul kliënte sommer gou sal agterkom as hul boerewors en maalvleis ander produkte bevat.
Die herrie rondom vleis is op die regte tyd oopgevlek, sê Renier van Vuuren van Tan Slaghuis in Mokopane. “Ek dink ons konvensionele slaghuise wat 'n vetrouens-verhouding met kliënte opgebou het, baat hierby. ‘n Slaghuis word geken aan sy maalvleis, boerewors, biltong en droë wors. Die ander vleis is ‘n bysaak. Hierdie vier produkte maak dat mense terugkom.”
Van Vuuren sê die geleentheid is daar vir slaghuise om skelm te wees. “Hardloop agter goedkoper pryse aan dan kan jy verwag om produkte soos soya in vleis te kry. As ek ‘n olifant het en dit in my produkte sit sal ek dit vir mense sê, want daar is diegene wat wil proe hoe olifant smaak! Jy kry ook slaghuise wat openlik adverteer dat hul perdevleis verkoop vir die wat wil proe of daarvan hou.”
Billie van Heerden, bestuurder van Meat City, sê daar was afgelope tyd baie kliënte wat die vleiskwessie opgehaal het - ernstig of grapgewys. Hy wil mense verseker net gehalte vleis word verkoop. “Daar is tog baie mense wat wildsvleis koop. Dit is gesog en word duidelik gemerk of dit nou wildsosaties, of wildswors is.”
Freek Grobler, bestuurder van Mark Slaghuis, sê hulle het ook vrae rondom die vleis-kwessie hanteer. Die slaghuis is al 30 jaar in die vleisbedryf en dit is veral hul wors, gemaalde vleis en biltong wat topverkopers is. “ Mense vertrou ons en sal gou agter kom as daar ander produkte in ons vleis is. Dit is die ouens wat geprosseseerde vleise soos polonie maak wat allerhande goed kan bysit.”
0 Comments