-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Luggeweerskiet is dalk nie so bekende sportsoort soos rugby of netbal nie, maar net so opwindend want jy neem nie net individueel deel nie, maar ook in spanverband.
Janco Meiring, Adriaan Steyn en Shannen Blignaut van Hoërskool Piet Potgieter en Charel Visser wat tuisonderrig ontvang, het verlede Saterdag uitsonderlik gepresteer tydens die skool se Luggeweer-uitnodigingskompetisie waaraan vyf skole deelgeneem het.
Janco het ‘n goue medalje en sertifikaat in die o/16 Veer-afdeling gewen, terwyl Adriaan met die brons medalje en sertifikaat wegestap het. In die o/21 veer-afdeling het Shannen Blignaut ‘n silwer medalje en sertifikaat gekry.
Die drie het ook saam met Charel ‘n goue medalje gekry as die beste span. Shannen sê sy het drie jaar gelede begin om deel te neem nadat sy op vriende se plaas met ‘n windbuks geskiet het. Sedertdien geniet sy dit om te wys meisies kan ook goed skiet.
Al vier die skuts hoop om in Oktober aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Johannesburg te gaan deelneem.
Willie Klemp, afrigter van die span en hoof baanoffisier van Limpopo sê die sport leer die kinders nie net om goed te konsentreer nie, maar ook dissipline en hoe om ‘n geweer te hanteer. Leerders wat die sport beoefen kan beroepsjagters word.
Die span gaan op 12 en 13 April aan internasionale proewe deelneem. Indien hulle gekies word, sal hul kan meeding om ‘n plek in die Junior Proteaspan wat later vanjaar in Amerika gaan skiet.
0 Comments