<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Fees het behoorlik gekook!

 
News : 16 Aug 2013 204 Viewed 0

Meer as 22 000 mense het verlede week die Kierieklapper Kunstefees in Mokopane ondersteun met Steve Hofmeyr, Nadine en Snotkop wat die grootste aftrek gekry, sê Johan Kirchner, voorsitter van die Kierieklapper-feeskomitee.
Kirchner sê Tjiff en Tjaff en Liefste Kayla is oorval deur die kinders en die stalletjie-eienaars het ook nie rede gehad om te kla nie. Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat by die fees betrokke was en veral die Kierieklapper-personeel vir hul harde werk en aandeel in die sukes.
“Die fees groei steeds en is die afgelope dertien jaar ‘n hoogtepunt op die kalender.”
Oud en jonk het kans gehad om van Donderdag tot op Saterdag op die skoolterrein van Hoërskool Piet Potgieter te kom deel in al die joligheid. Vrydagaand was die stoele en pawiljoene voor die buiteverhoog volgepak vir die optredes van Nadine en Snotkop.
Die koue windjie het nie die talle feesgangers Saterdagaand afgeskrik toe Hofmeyr sy buiging gemaak het nie. Hy het weer gewys waarom hy steeds een van die land se beste sangers is en die gehoor aan sy voete gehad met immergroen liedjies van die afgelope 25 jaar.
Die pretpark is deurgaans drukbesoek en daar is heeldag gesmul aan al die heerlike eet- en drinkgoed op die feesterrein.
Mnr & Mej Kierieklapper 2013 en Kierieklapper Silver Queen 2013 (60 jaar en ouer) was die eerste skoonheidskompetisie wat in die 13-jarige bestaan van die Kierieklapper Kunstefees gehou is.
Hierdie jaar se Mej Kierieklapper, Zelmarie Bacher, het ‘n groot taak op hande. Sy moet ‘n ‘High Tea" aanbied waarby ‘n ontwerper, kunstenaars en ‘n gasspreker betrokke moet wees, alles ten bate van die Potgietersrus Diensentrum en die Kanker Vereniging.
Estelle Hartzenberg, feesbestuurder, asook bestuurder van die Dienssentrum vir Bejaardes, sê die fees het behoorlik gekook en dit was ‘n voorreg om besondere talent soos Nataniël na Mokopane te bring. Hy het Donderdagaand in die diensentrum se saal  opgetree en kaartjies vir sy vertoning was heeltemal uitverkoop. Die gaste het kans gekry om produkte by die “Kaalkop”-uitstalling te koop. Kaartjies vir die produksie “Annale van ‘n Windgat” het ook soos soetkoek uitverkoop.
Hartzenberg het al die lede van die dienssentrum en die vrywilligers bedank vir hul harde werk in die feeskombuis op die skoolgronde waar die allerlekkerste pannekoek en jaffels te koop was, asook kreatiewe handwerk. “Weet dat elkeen van julle ‘n verskil maak in die lewens van bejaardes en ons kan met trots sê die “Op ons Bord-projek” van die fees was ‘n groot sukses.
Die fees is Sondag met ‘n dankdiens in die NG Hulp en Hoop kerk afgesluit waar die sangpaar, Willie en Natasha Joubert, opgetree het.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube