-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Telkom-kontrakteurs het op verskeie versteekte wapens buite Mookgophong afgekom. Dié wapens is ongeveer 6km buite Mookgophong op die Roedtan-pad gevind op Vrydag, 27 September. Die wapens, bestaande uit onder meer 'n R1-geweer, 'n 9mm-pistool, vier rewolwers, vyf rookgranate en 935 rondtes ammunisie is deur Telkom-kontrakteurs gevind terwyl hulle besig was met herstelwerk aan telefoonpale wat in die vorige week se veldbrand beskadig is.
Volgens ’n werknemer van Telkom op Mookgophong, wat anoniem wil bly, het die wapens binne die padreserwe naby ’n wildheining gelê. Van die wapens is ook in die brand beskadig en die meeste is geroes. Die polisie is onmiddellik in kennis gestel en ’n intelligensie-taakspan asook lede van die bomopruiming-eenheid is na die toneel gestuur. Die wapens is na die polisie se forensiese afdeling gestuur vir ballistiese toetse.
“Die polisie is vasbeslote om die oorsprong van die wapens en ammunisie vas te stel,” het brig. Hangwani Mulaudzi, polisie woordvoerder, gesê. Met die ter perse gaan is daar nog niemand aangekeer nie.
Berigte oor ’n regse opleidingskamp in die Mookgophong-omgewing is twee jaar gelede in die media gemaak. In November 2011 het die polisie drie mans in hegtenis geneem wat glo kerke op Mookgophong en Mokopane wou opblaas. Tydens dié arrestasies is daar beslag gelê op tuisgemaakte swaarde en wapens met ysterpunte. — LiN Nuus/Die Pos
0 Comments