<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Boere veg verwoestende brande

 
Die vuur by die Baviaanshoekplotte het op een van die plotte ontstaan toe rommel gebrand is en die vuur buite beheer geraak het.
News : 11 Oct 2013 113 Viewed 0

Die verwoestende krag van vuur het die afgelope week ‘n realiteit geword vir boere in die Lephalale-omgewing wat behoorlik bont moes staan om drie verskillende brande te blus.
Die eerste brand het verlede Donderdag op ‘n plot in die Baviaanshoek omgewing begin toe daar vermoedelik rommel gebrand is. Die vuur het buite beheer geraak en vinnig tot in die Spruitkloof versprei. Boere was vinnig op die toneel en het met die toerusting wat hulle gehad het probeer om die brand te blus.
Volgens Neels Grieshaber het die eerste veldbrand gou gewys waar daar tekorte in brandbestryding vir boere in die gebied is. Dit was toe die tweede brand op die plaas Zeekoeigat wat aan Eckard Boerderye behoort uitbreek dat dinge effens beter gegaan het. “Ek het boere leer ken en gesien hoe ons kan saamwerk as die nood druk,” vertel hy.
Dié brand het Vrydagoggend ontstaan toe iemand vermoedelik langs die pad ‘n vuur gemaak het. Die vuur het ook buite beheer geraak en meer as 80% van die plaas is afgebrand voordat dit ook na buurplase versprei het. Stormsterk winde het die vuur na die riete in die rivier aangeblaas en Grieshaber vertel dat hulle stukke brandende riete tot 200m ver sien waai het.
Deur voorbrande en terug brande te doen kon die brandslaners daarin slaag om te keer dat die vuur in die berge opgaan. “Dit sou tot in Vaalwater gebrand het as ons nie die eerste twee en ook die derde brand kon isoleer nie,” vertel Grieshaber.
Die derde brand het Dinsdagoggend 02h00 op Nungu Safaris begin en brandstigting word vermoed. Met stormsterk winde het die vuur tot by Afguns aangewaai.
Woensdagoggend was die vuur onder beheer en is daar gehoop dat hy homself sou uitbrand. Volgens Jenny Gouws van die Baviaanshoek-gemeenskap, wat voortdurend radios beman en kos en water aangedra het was die span Woensdagoggend steeds op gereedheid sou die vuur spring en verder versprei.
Gouws vertel dat hulle 04h00 Dinsdagoggend Working on Fire (WOF) se hulp ontbied het, maar dat sy meegedeel is dat die span eers na 07h00 begin werk. WOF het ook daarop aangedring dat slegs die eienaar die span mag ontbied. Die plaaslike brandweer het ten spyte van aanwysings verdwaal en kon nie die brandslaners van hulp wees nie. Sy meen dat tussen 80 tot 100 mense betrokke was by die bestryding van die brande. Van die manne het vir vyf dae lank regdeur die nag brand geslaan.
Volgens Grieshaber is waardevolle lesse geleer. “Ons het gesien dat brand rugsakke die beste werk om brande in veral bergagtige dele te bestry. Toegang tot plase was nie altyd maklik nie en daar was eienaars (wat nie op hul plase woon nie) wat geweier het om toestemming te gee vir die knip van drade- selfs nie om hulle eie wild te red nie.  Baie paaie was ook ontoeganklik omdat dit lanklaas gebruik is.
Kommunikasie was soms ‘n probleem omdat grondeienaars verskillende diensverskaffers gebruik en nie almal op dieselfde frekwensies is nie. Eienaars het ook nie hulle radios opgedateer met nuwe noodkanale nie. “ Ek wil graag vir Aldo Venter en Michael Lingenfelder van EZT Communication uitsonder,” het Grieshaber gesê. “Hulle het deur die nag saam met ons vure geblus en Aldo se vrou, Delyse, het tot 06:00 die oggende die radio beman. Teen druktyd het die vure, hoewel onder beheer, steeds gebrand en het baie moeë brandslaners gebid vir ‘n blaaskansie. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube