<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Op Ons Bord was ‘n wenresep!

 
Helena Raats van Noordelike Nuus skenk ‘n tjek van R2158.77 aan Johan Kirchner en Estelle Hartzenberg van die dienssentrum vir bejaardes. Hierdie skenking is moontlik gemaak deur Noordelike Nuus adverteerders wat in die KKKF-bylae geadverteer het.
News : 11 Oct 2013 117 Viewed By Jasper Raats 0

Die Op Ons Bord projek waardeur Mokopane se Dienssentrum vir Bejaardes tydens hierdie jaar se Kierieklapper Kunstefees (KKKF) tydperk geld ingesamel het om vir behoeftige bejaardes kos te kan gee was ‘n sukses. So sê die KKKF-voorsitter, Johan Kirchner en Dienssentrum bestuurder, Estelle Hartzenberg.
Hartzenberg sê danksy dié projek en bydraes van die gemeenskap, kon die dienssentrum tot op hede vir meer as 35 behoeftige bejaardes elk vir ‘n maand lank aandetes verskaf.
Kirchner en Hartzenberg het almal bedank wat hul harte en beursies oopgemaak het om geld aan hierdie projek te skenk. Elke skenking van R180 het dit moontlik gemaak om een persoon vir ‘n maand lank van ‘n daaglikse bord kos te voorsien.
Hulle het ook daarop gewys dat die publiek welkom is om steeds by te dra tot etes vir bejaardes. “Hoewel baie van ons lede finansieel onafhanklik is en gemaklik vir die etes betaal wat die Dienssentrum aan sy lede voorsien, is daar heelwat bejaardes in ons gemeenskap wat dit nie kan bekostig nie.
“Dit is partykeer mense wat op die oog af nie versukkeld lyk nie, maar na hulle hul huur, munisipale rekeninge en dalk vir medikasie betaal het, het hulle eenvoudig nie kontant om van te lewe nie,” verduidelik Hartzenberg.
Sy wys daarop dat die Dienssentrum nie ‘n sentrum vir behoeftiges is nie, maar ‘n bymekaarkomplek vir alle bejaardes waar daar na die behoeftes van bejaardes in die dorp omgesien word. Maar omdat die Dienssentrum ‘n geregistreerde welsynsorganisasie is, kan dit ook die fondse wat dit insamel aanwend om behoeftige lede en nie-lede te help.
Die sentrum se ledetal het sedert Janua-rie verdubbel en staan nou op 625. “Ons het tans R9 400 per maand nodig net om die etes te verskaf. En ons wil ook na maniere kyk om nie-bederfbare etes voor naweke uit te deel, want in baie huise kry mense swaar op Saterdae en Sondae wanneer die Dienssentrum nie etes verskaf nie,” vertel Kirchner.
Die Dienssentrum vir Bejaardes is ‘n nie-winsgewende organisasie wat hoofsaaklik bedryf word uit fondse wat deur die KKKF en lede projekte gegenereer word. Daar is ook individue en besighede in die dorp wat
gereeld skenkings aan die sentrum maak. - Jasper Raats (jasper@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube