-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Emosies het verlede Vrydag hoog geloop toe Sylvania Platinum se aangestelde omgewingskonsultant, Theo Fischer van E-Science Environmental, met belangegroepe vergader het oor die myngroep se planne om ‘n oop groef platinummyn langs die Nyl-vloedvlakte te ontwikkel. Noordelike Nuus se Jasper Raats het die vergadering bygewoon.
Die vergadering by Kanniedood Gastehuis is gehou om opnuut die openbare deelname proses soos vereis deur die minerale hulpbronne- en omgewingsbestuur wet op dreef te kry nadat Sylvania sy vorige aansoek vir ‘n mynlisensie vir sy voorgestelde Volspruit myn laat vaar het.
Fischer het verduidelik dat daar met die vorige aansoek wat in Junie verlede jaar ingehandig is, eenvoudig te min tyd was om aan al die vereistes van die departement van minerale hulpbronne te voldoen. “Die oomblik wat die aansoek ingedien word, het ons net 180 dae om ‘n omgewingsimpakstudie te voltooi en in te handig. Ons kon nie al die nodige studies in hierdie tyd afhandel nie.”
Sylvania het dus besluit om hul aanvanklike aansoek te laat vaar en het in Meimaand opnuut aansoek gedoen vir ‘n mynlisensie.
Tydsberekening
Hieroor is boere, gemeenskapslede en lede van die Nyl Aksiegroep boos. “Julle het verlede jaar die 180 dae reël as verskoning gebruik om die publieke deelname proses oor Desembermaand te probeer stoomroller. Nou het julle die geleentheid om dit reg te doen en dadelik gaan dien julle jul aansoek weer so in dat die belangrikste tyd van die deelnameproses oor die feesgety val,” het ‘n grondeienaar en lid van die aksiegroep, Hilary Knight, Fischer gekonfronteer.
Fischer het verduidelik dat die indiening datum genoodsaak is deur die regering se beleid dat maatskappye wat mineraalregte hou dit benut binne ‘n gegewe tydperk of die regte word deur die Staat teruggeneem. Tot watter mate Sylvania se mineraalregte in gedrang was kon teen druktyd nog nie bevestig word nie.
Emile Honiball, voorsitter van die Nyl Aksiegroep, het egter gesê dit is nie goed genoeg nie. Hy stem saam met Knight dat die tydsberekening van die lisensie aansoek die gemeenskap onder druk plaas en tot nadeel strek in terme van hul regte in die openbare deelname proses.
“Die oomblik wat daar ‘n voorlopige omgewing impakstudie op die tafel is wil ons byvoorbeeld ons eie kenners aanstel om dit te ondersoek, maar nou gaan daardie voorlopige studie eers aan die einde van die jaar beskikbaar wees. Dan is akademici of besig met eksamens of reeds met vakansie,” het hy verduidelik.
Geen vloedwaters
Die ander groot twispunt is die feit dat die Nyl na alle waarskynlikheid in geen stadium tydens hierdie impakstudie in vloed nagevors sal kan word nie. Dit was ook nie die vorige keer moontlik nie.
Volgens inwoners van die omgewing het die Nyl nog nooit vroeg in die reënseisoen afgekom nie. “Rekords wys dat die rivier in die laaste 100 jaar nog net een keer oor Desember in vloed gekom het,” het Wayne Knight van die Nyl Aksiegroep se water komitee gesê.
Besorgde boere en inwoners meen daar is geen manier vir E-Science om sonder twyfel te bepaal of die oppervlak- en ondergrondse watervlakke met mekaar verband hou nie.
In die eerste omgewingsimpakstudie beweer kenners dat ‘n kleilaag die oppervlakwater van die ondergrondse watertafel skei en dat die twee onafhanklike waterbronne is. Maar die omgewing se inwoners meen dat selfs die dorp se boorgate se watervlakke styg en daal saam met die Nyl se oppervlakwater.
Fischer het erken dat die ideale navorsings omstandighede vir ‘n impakstudie ‘n vloed sal wees.
Hy het verduidelik dat E-Science nou ander maniere gaan gebruik om die impak van ‘n oppervlak vloed op die ondergrondse water te bepaal. “Ons gaan van satellietfoto’s van vorige vloede gebruik maak om meer inligting oor water se gedrag tydens vloede te kry. Ons kan ook hidrologiese modelle van die departement van waterwese en die ou Grass Valley myn aanpas en dan kyk wat ons daaruit kan leer. As dit nie werk nie, gaan ons ‘n gedeelte van die rivier tussen twee walle afskort en vol water pomp om te sien of die water bo die grond deursypel na die ondergrondse watertafel.”
Die Nyl Aksiegroep se afvaardiging het egter voet by stuk gehou dat Sylvania te haastig is met die impakstudie en dat die Nyl minstens een keer moet afkom voor daar gesê kan word hoe die oppervlak water en ondergrondse water van mekaar afhanklik is.
“Prof. McCarty vors die Nyl vloedvlakte nou al sy hele professionele lewe lank na en kan steeds nie sê hoe die oppervlakwater op die grondwater impakteer nie. Wie is ons om sommer in ses weke tot ‘n gevolgtrekking te wil kom,” het Honiball gesê.Prof. Terence McCarthy was tot onlangs hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se geologie departement. Hy spesialiseer in navorsing oor die rol van vleilande in suur mynwater dreinering. Hy het aanvanklik die veronderstelling dat ‘n kleilaag die Nyl se oppervlakwater van die ondergrondse watertafel skei gemaak, maar gesê dat meer navorsing nodig sal wees om dit te bevestig.
Die Nyl vloedvlakte word erken as ‘n vleiland van internasionale belang in terme van die Ramsar wêreldkonvensie van 1971.
By hierdie konvensie is ooreengekom dat alle deelnemende lande hul vleilande wat hiér geïdentifiseer is hul vleilandgebiede sal bewaar.
Sylvania sal waarskynlik in terme van die Ramsar status van die nyl spesiale toestemming van die departement van omgewingsake moet kry vir die put wat onder die vloedlyn lê.
‘n Verteenwoordiger van die provinsiale omgewingsake departement het Vrydag gesê hulle sal die
departement van minerale hulpbronne versoek om nie ‘n mynlisensie uit te reik voordat daar aan al die vereistes van Omgewingsake voldoen is nie.
0 Comments