-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Toe Shoprite Potgietersrus besluit het om Laerskool Krugerpark te nader het met hul ‘Toy 4 Toy’ veldtog, sou hulle nooit kon droom hoe vrygewig die klomp Krugies nou eintlik is nie.
“Ons het verskeie skole genader,” vertel Cindy Vermeulen, takbestuurder van Shoprite Potgietersrus, “maar Krugerpark se kinders het dadelik ingespring en hul harte oopgemaak deur amper 600 geskenkpakkies op te maak!”
Die veldtog, wat daarop gemik is om Kersfeesgeskenke vir minder bevoorregte kindertjies in te samel, is deur Checkers en Shoprite in samewerking met die Nataniël vooruitgang projek en BADISA van stapel gestuur.
Bruin papiersakke is aan leerders uitgedeel met die versoek dat hulle dit moet versier en ‘n geskenkie (gebruikte of nuwe speelgoed) binne-in moet plaas. Verlede jaar het die projek gesorg dat daar speelgoed aan sowat 8 000 behoeftige kinders regoor Suid-Afrika uitgedeel is.
“Ons is baie trots op ons leerders wat met soveel ywer ingespring het en bedank al die ouers wat gehelp versier het en ook dié wat sommer nuwe geskenke gaan koop het,” het Laerskool Krugerpark skoolhoof ,Johan Vertongen gesê.
Lesers wat steeds wil bydra tot die ‘Toy 4 Toy’ veldtog kan uitkyk vir waentjies in Checkers en Shoprite winkels waarin ou speelgoed (nie stukkende speelgoed nie) geplaas kan word.
0 Comments