-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
As jy vir Mikayla Robbertse (7) ken, dan sal jy weet dat sy ‘n klein vegtertjie is. Die klein dogtertjie stap nou bykans twee jaar lank ‘n pad na herstel nadat ‘n Mosambiekse Spoegkobra haar in Desember 2011 in haar bed gepik het. Maandag was Mikayla se 20ste operasie en hierdie keer is daar gepoog om haar vingertjie te red.
Noordelike Nuus het vroeër die jaar berig dat Mikayla se vinger blou begin word het en dat dokters haar voogde, Charmaine en Bertus Robbertse daarop voorberei het dat die vinger geamputeer sou word.
‘n Tweede opinie deur ortopediese chirurg, Ulrich Mennen, het egter vir hulle die hoop gegee dat die vinger steeds gered kan word. Maandag het Mennen senuwees van haar ringvinger na haar middelvinger oorgeplant en is die vinger reguit gespalk. Toe daar ‘n blokkasie in die wond ontstaan het, moes sy egter ‘n tweede keer in die teater ingeneem word.
Teen Dinsdag was Mikayla en Charmaine weer by hul huis in Lephalale en hoewel Mikayla nog baie pyn verduur, glo Charmaine dat sy gou sal herstel. “Die dokter sê hy het nog nie ‘n kind teëgekom wat so vasberade is om beter te word nie. Gister het sy na verskeie pasiënte in die hospitaal gestap en vir hulle gebid.
Elkeen het ‘n Bybel en ‘n beertjie gekry,” vertel Charmaine.
Nog ‘n pasiënt van Lephalale wat in die
Jakaranda hospitaal, waar Mikayla geopereer is, behandel word is Koos Wallis. Hy en sy vrou Alida was in trane toe Mikaya vir hom sê hy hoef nie bekommerd te wees nie, want Jesus hou sy hand vas en pas hom op. En so ten spyte van haar eie pyn, is Mikayla vir so baie mense ‘n voorbeeld van vasberade geloof en hoop.
0 Comments