-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Thula-Thula babahuis se damestee wat Saterdagoggend by die Park Hotel in Mokopane aangebied is, was ‘n reuse sukses. Meer as 170 dames het opgedaag om dié inisiatief van die huiskomitee te ondersteun.
Die doel van die geselligheid was om bewustheid vir die Thula-Thula babahuis te skep, sê die komitee se voorsitter, Estie Boltman. Dames is ook gevra om Kersgeskenkies vir die huis se klein inwoners te bring.
“Ons bied ‘n plek van veiligheid vir babas wat om verskeie redes nie by hul ouers kan wees nie,” sê Boltman. “In baie gevalle is die moeders finansieel nie in staat om vir hul kinders te sorg nie.”
Die babahuis is nie ‘n weeshuis nie, maar is ‘n plek van veiligheid waar babatjies versorg word voordat hulle in pleegsorg, kinderhuise of by aanneemouers geplaas word.
Boltman sê die babahuis se grootste uitdaging is om voortdurend fondse in te samel wat aangewend word vir die versorging van die babas. Enigiemand wat belangstel om by te dra tot die babahuis se finansies kan met die Mokopane Noodforum skakel of Estie Boltman by 083 230 7021.
0 Comments