-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Toyota het so pas sy 2014 Land Cruiser Prado in die asemrowend mooi woestynduine van Namibië aan die media bekend gestel. Twee weergawes van die gewilde luukse viertrek Prado is beskikbaar, naamlik in TX en luukser VX afwerking.
Aan die buitekant pronk die nuwe model nou met meer aggressiewe stilering waarvan die mees opvallend die herontwerpte voorste buffer, erfenis-sierrooster en lighulsel is. Die kopligte is nou hoër geposisioneer om dit in geharde veld rytoestande minder kwesbaar te maak. Die VX-weergawe het ligdiode-kopligte en daglig ryligte.
Nuwe 17”-sesspeek-allooisierwiele vir die TX en 18”-twaalfspeek-allooiwiele vir die VX asook frisser wielboë dra ook by tot die 2014 Prado se varser voorkoms.
Die elektriese beheerde deurspieëls, wat ook kan terugvou, kom in die TX-modelle met ingeboude verwarmers, en in die geval van die VX-modelle ook met ‘n bykomende blindekol-waarskuwingstelsel. Die VX-weergawes is beskikbaar met ’n elektries beheerde sondak teen bykomende koste.
Veranderings aan die agterkant is meer beskeie met herontwerpte agterligte wat nou helder-deurskynende lense met rooi insetsels bied.
Die binneruim van dié sewesitplek-sportnuts is verder verfyn en verbeter met onder meer ‘n nuwe multimedia-klank-stelsel sowel as ’n herontwerpte voorpaneel met beter materiale, fyner detail en nuwe toerusting. Die dubbele stikwerk aan die leerbekleedsel skep ‘n beter gevoel in die kajuit.
In die geheel het Toyota die Prado se gehalte, gemak en gerief vir passasiers verbeter.
Toyota het die nuwe Prado se praktiese eienskappe met bykomende bestuurshulpmiddels versterk.
Die VX-modelle kry ’n veelterrein-monitor (Multi-Terrain Monitor) wat die bestuurder bykomende leiding oor veldry hindernisse gee via videobeelde van vier kameras wat voor, agter en aan die kante van die voertuig gemonteer is, te vertoon.
Nog ’n VX-eienskap is wat Toyota sy veelterrein-modus noem. Dié stelsel beheer die enjinverrigting en remme om die beste vordering oor 'n verskeidenheid oppervlakke te bewerkstellig. Die grootste verandering is dat dié stelsel nou deur 'n draaiknop beheer word waar die bestuurder die verstelling ingevolge die soort terrein kies. Die veelterrein-modus beheer wieltol, terwyl veelterrein-sluitwerende remme (ABS) verhinder dat die wiele vasslaan.
Die stelsel het ook ’n vyfde verstelling om die bestuurder te help om ’n kombinasie van klippe en grond baas te raak, en is aanvullend tot die vorige modusse vir rotse, los klippe, modder en sand, en middelmannetjies.
Die veelterrein-modus is ’n ontwikkeling van Toyota se A-TRAC-stelsel (aktiewe kloubeheer) met ingeboude veelterrein-ABS, wat tot beter glybeheer lei.
’n Blindekol-monitor en wieldruk-waarskuwingstelsel vir die VX, en sleepwa-swaaibeheer (deel van die hele reeks se standaard-toerusting) wat help om moontlike onaangename gevolge van dwarswinde of ongelyke padoppervlakke wanneer iets gesleep word te neutraliseer.
Die 2014 Prado se elektroniese kinetiese dinamiese veerstelsel (KDSS) is ook verfyn en lewer nou beter hantering- en geriefseienskappe.
Die Land Cruiser Prado bied ’n keuse tussen twee enjins – ’n 4.0 liter V6-petrolenjin met dubbele VVT-i, en ’n 3.0 liter-turbodiesel.
Die V6-petrolenjin bied viervoudige bonokasse en lewer 202kW teen 5600r/min asook 381 Nm se wringkrag teen 4400r/min. Brandstofverbruik in die gekombineerde siklus is volgens Toyota 11,5 liter per 100km, terwyl die CO2-lesing op 266g per kilometer te staan kom.
Die 3.0liter-turbodiesel met 16 kleppe en dubbele bonokasse lewer 120kW teen 3 400r/min en 400 Nm tussen 1600 en 2800r/min.
Die diesel se brandstofverbruik in die gekombineerde siklus is 8,5liter/100km met 'n CO2-lesing van 224g/km .
Beide enjins is aan ’n outoma-tiese vyfgang-tikratkas gekoppel.
Die VX-weergawes het ’n bykomende ewenaargrendel en kruipbeheer – Toyota se laespoed-veldryspoedbeheerstelsel asook die bykomende gerief van aanpasbare veranderlike vering (AVS) voor en agter, sowel as hoogteverstelbare lugvering agter.
Pryse, waarborg en diensplan ingesluit:
Land Cruiser Prado TX 4.0 V6 Outo - R632 200
Land Cruiser Prado TX 3.0 DT Outo - R642 000
Land Cruiser Prado VX 4.0 V6 Outo - R728 200
Land Cruiser Prado VX 3.0 DT Outo - R732 400
Land Cruiser Prado VX 4.0 V6 Outo met sondak - R738 200
Land Cruiser Prado VX 3.0 DT Outo met sondak - R742 400.
Die Prado het 'n fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000km en 'n diensplan vir vyf jaar of 90 000km. Die nuwe modelle word ook deur die ToyotaCare-padbystandsprogram gedek, wat eienaars 24-uur se noodpadhulp bied om algehele gemoedsrus te verseker.
Bron: Toyota SA / Fotos: QuickPic - Dirk Gallowitz
0 Comments