-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Elke jaar is daar ‘n skerp toename in huisbrake, rowe en plaasaanvalle oor die Feesgety. Noordelike Nuus het met Pieter Boshoff van die Potgietersrus DLU se veiligheidskomitee gesels oor stappe wat mense kan neem om hul huise en gesinne te beveilig.
Boshoff sê dit is elkeen se verantwoordelikheid om na sy eie huis se veiligheid om te sien. Die dae wat ‘n mens vertrou die polisie, buurtwagte en veiligheidsmaatskappye sal jou omgewing misdaad-vry hou is verby.
Hy beveel aan dat mense begin by die heinings om hul huise. Maak dit daar so moeilik as moontlik om onregmatig in te kom, sê hy. ‘n Mens wil sommer daar al jou oortreder se moed breek. Opsies op sulke heinings is om dit te elektrifiseer, lemmetjiesdraad te gebruik en alarmstelsels aan hierdie heinings te koppel.
‘n Goeie manier om seker te maak niemand sluip stilletjies nader aan die huis nie is om ‘n strook gruisklip van so twee tot drie meter breed om die huis te gooi. Op plase kan dit aan die buitekant van die heining om die plaaswerf gegooi word wat verseker die honde hoor enigiemand wat die heining nader nog voordat hulle by die heining uitkom.
Hou hekke om jou blyplek toe en gesluit - veral in die aand.
Mense wat buite die dorp woon moet seker maak hul tweerigtingradio’s is in wer-kende toestand en gelaai. In noodgevalle is dit die beste vorm van kommunikasie.
Die volgende grens is die buitekant van ‘n mens se huis. Hier sê Boshoff moet die veiligheidshekke en diefwering nagegaan word. ‘n Alarmstelsel wat raas die oomblik wat ‘n venster of deur binnegedring word is ‘n moet. Hy stel voor dat die alarmstelsel ook na die naaste bure deurbel wanneer dit afgaan - veral op plase. “Dit is tog die mense wat eerste daar kan wees om te help as jy moeilikheid kry.”
Binne in die huis is die beste sekuriteitsmaatreël ‘n klein hondjie wat saans in die huis slaap.
Uit onderhoude wat die bekende kriminoloog, Rudolph Zinn, met meer as 40 gevonisde huisrowers in die tronk gevoer het, het dit geblyk dat honde wat in die huis slaap een van die grootste afskrikmiddels is.
Boshoff voeg by dat elke huishouding ‘n veiligheidsplan in plek moet hê en dat die hoof van die huis die details van hierdie plan gereeld met almal in die huis bespreek. “Dit is belangrik dat elkeen weet wat om te doen en waarheen om te gaan as daar ‘n bedreiging is.”
Hy beveel ook aan dat mense wat weggaan oor die Kerstyd hul bure laat weet wanneer hulle weg gaan wees en indien moontlik, iemand kry om in die huis te kom bly terwyl hulle weg is. - Jasper Raats
0 Comments