-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Elize Labuschagne van Duplex Hof woonstelle in Hoogestraat, Mokopane, sê sy weet nie meer watter kant toe met die vuil kraanwater nie. Sy sê hulle water het net voor Kersfees verlede jaar modder bruin uit die krane begin loop en dit het nou nog nie beter geword nie.
“Ek het die munisipaliteit nou al gebel en hulle het twee weke gelede belowe om uit te kom en te kom kyk, maar tot vandag was hier niemand,” vertel sy.
Labuschagne sê sy sukkel nou al met vel irritasies wat sy glo direk aan die bruin water toegeskryf kan word. Boonop moet sy nou al haar drinkwater en water om te kook aankoop. “Ons het Kersfees ‘n hele pot rys weggegooi, want toe dit klaar gekook is, was die rys bruin. Ek kan mos nie sulke kos aan gaste voorsit nie!”
Wat haar die kwaadste maak is dat sy vir dié vuil water volprys moet betaal al kan sy dit vir byna niks meer as toiletwater gebruik nie.
Noordelike Nuus het ook met Corinus Du Toit, wat naby aan Duplex Hof woon, gesels. Hy het bevestig dat die kraanwater ook by sy huis bruiner is as die water wat deur sy filterstelsel vloei.
Teen druktyd het die munisipaliteit nog nie op geskrewe vrae van Noordelike Nuus gereageer nie. - Jasper Raats (jasper@noordnuus.co.za)
0 Comments