-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“En watter Nuwejaarsvoornemens het julle as dit by kamp kom?”
Servaas sit al weer die hele stoel vol en bring die kasteeltjie mond toe. Herman het syne lankal leeg en kyk grootoog yskas se kant toe. Hy leun vorentoe, maak die deur oop, trek die kasteel uit en druk die deur toe.
“Jy bedoel jy wil weet wat gaan ons doen om die kamplewe net nog lekkerder te maak?”
“Net so,” sê Servaas. “Ek meen, man kan mos nie net elke keer so met dieselfde goed en op dieselfde manier kamp opsit nie. Iets moet tog iewers verander. Een van my voornemens is om vanjaar elke maand iewers te gaan tent opslaan. Elke maand.”
Ek weet dit vat baie van hom om dit te sê. Hy is nou nie juis van die fluksste ouens as dit by kamp opsit kom nie. Vir hom om dit een keer per maand te doen, vra baie. “Jy dink nie jy moet liewer ’n voorneme hê om jou vrou meer te help as dit by kamp opsit kom nie?” vra ek.
Hy strek sy bene voor hom uit: “Hoe bedoel jy? Ek help mos vir ma waar dit kan. Sy soek die plek uit, ek trek die karavaan op sy plek, breek ’n kasteel en kyk hoe sy kamp opsit. Die gesegde is mos, trou met die een wat jy lief het en wees lief vir die een met wie jy getrou het.”
”As dit waar is, was jy al oorle Servaas,” sê Herman, “jou vrou sal nooit as te nimmer alleen kamp opsit nie. Dit hoort ook nie so nie. Ek en ma stop gewoonlik so in die middel van die kampplek en dan loop ons die hele plek vol. Op die manier soek ons die beste plek en kry ons dit, bly sy daar staan en ek loop haal die karavaan.”
Ek kyk na Herman: “Ja en dan? Watse voornemens het jy om dit vir jou vrou lekker te maak by die kamp. Onthou, sy is die een wat by die huis die hardste werk, so by die kamp moet sy die meeste rus.”
Dit lyk my dié wyse woorde van my het die twee al twee aan die dink gesit. Dis asof hulle nou eers besef uitkamp en ontspan is nie net vir hulle nie. Die vrouens moet dit ook geniet. Eintlik meer as hulle.
“Nou goed,” dis weer Servaas, “ek hoor wat jy sê en ek stem saam. Te veel ouens dink ma moet by die kamp net so hard werk as by die huis. Hulle dink as hulle vleis gebraai het, het hulle kant gebring. Hulle vergeet van die slaaie en broodjies maak en tafel dek voor daar geëet kan word.”
“Is so,” bring Herman ook sy kant, “nou die dag by die kamp sien ek die een man so lekker by sy kampplek loop. Ek sien al die leë kasteeltjies by sy plek en ek weet toe hoekom is sy wheel alignment so uit. Die kastele was net te veel. Ma sit maar ewe gedwee op haar stoel en boek lees.”
Servaas haal diep asem: “Nou maar goed dan, dan is ons drie se Nuwejaarsvoornemens om te sorg dat ons vrouens nie net so lekker kamp soos ons nie, maar nog lekkerder?”
Ek en Herman kyk na mekaar. Ons knik instemmend. - Melt van der Spuy
0 Comments