<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Pasop vir spinnekoppe

 
News : 01 Mar 2014 25221 Viewed By NoordNuus reporter 0

Die bytplek is eers met antibiotika behandel as ‘n virale infeksie, maar toe die wond erger begin word, het Van der Walt ’n tweede opinie gekry – hy is onmiddellik geopereer om die besmette area uit te sny en verspreiding te keer. Uit Van der Walt se ondervinding leer mens op dadelik op te tree as 'n spinnekop jou byt.
'n Vioolspinnekop se byt is relatief pynloos maar die gif het ‘n nekrotiese uitwerking (weefsel wat afsterf) en daar is geen teengif beskikbaar nie. Na 2-3 ure swel die bytplek en vorm ‘n rooi area met ‘n donker-pers kern. Binne twee dae vorm die wond ’n nat blaas wat donker raak van kleur. Teen die vierde dag verminder die swelling en infeksie, maar begin die
weefsel afsterf. Behandeling sluit gewoonlik antibiotika, die verwydering van die dooie weefsel, veloorplantings en ook ’n inspuiting teen tetanus in.
Alhoewel vioolspinnekoppe redelik skaars is, word die giftige spinnekoppe wel in huise in die Bosveld-area gevind. Einde verlede jaar is daar ‘n vioolspinnekop in die kombuis van die huis by die Abraham Kriel Kinderhuis gevang. Een inwoner van Tolwe het laat weet dat sy direk deurgery het Polokwane toe nadat ‘n spinnekop haar in die nek gebyt het.
Daar kom twee tipes vioolspinnekoppe hier voor – die Amerikaanse vioolspinnekop, wat nie giftig is nie en die Afrikaanse vioolspinnekop wat dodelik kan wees. Hierdie spinnekoppe kom gewoonlik in donker hoekies en gaatjies van geboue of selfs onder vloere voor. Hulle is egter uiters skaars en word gewoonlik vir allerlei spinnekopbyte die skuld gegee.
Dit is belangrik om te onthou dat die meeste spinnekoppe skadeloos is en dat spinnekoppe ‘n belangrike rol in die natuur speel.
Prof. Ansie Dippenaar-Schoeman van die Landbounavoringsraad  het in ‘n onlangse artikel vir die SA Jagters en Wildbewaringsvereenigting webwerf geskryf dat mense ‘n onrealistiese vrees vir spinnekoppe het. Uit die 10 000 spinnekop eksemplare wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Opname van Arachnida (SANSA) versamel word, is slegs 2-3 vioolspinnekoppe.
“Uit die meer as 2 000 foto’s reeds ontvang, meestal van spinnekoppe wat in en om huise gevind word, is slegs 11 van vioolspinnekoppe en vyf daarvan vanaf een lokaliteit.”
Vioolspinnekoppe lyk soos die algemene langbeenspinnekop, maar is heelwat groter met ‘n bruin lyf en afgeplatte borsstuk met bruin tot rooi-bruin patrone op die agterlyf op en bruin bene.  Hulle is moeilik om te identifiseer.
Volgens Frikkie Gous, bemarkingsbestuurder van LifeMed Ambulansdienste, is daar oor die 200 geïdentifiseerde spinnekopsoorte in Suid-Afrika. Die meeste van hulle is meer aktief wanneer dit somer word (bron: Die Pos).
Die volgende spinnekoppe word as gevaarlik in Suid-Afrika beskou: die swart knopiespinnekop, die vioolspinnekop, die sakspinnekop, die bobbejaanspinnekop en die sesoogsandspinnekop.
Gous moedig mense aan om die spinnekoppe in hul omgewing uit te ken en hul kennis te gebruik om trauma te verminder.
Gous stel die volgende voorsorgmaat-reëls voor:
Hou erwe skoon van vullis en rommel, omdat spinnekoppe gewoonlik in rommel wegkruip.
Maak die huis gereeld skoon — onder tafels, stoele en kaste — want knopiespinnekoppe maak gewoonlik hulself daar tuis.
In gebiede waar spinnekoppe gereeld voorkom, moet mense gereeld onder hul kinders se beddens skoonmaak.
Kyk gereeld in stoorplekke, oos speel goedkaste en klerekaste.
Sakspinnekoppe word gereeld gevind in die voue van gordyne.
Spinnekoppe word ook gereeld gevind agter fotorame en skilderye.
Gous stel die volgende noodhulpwenke voor indien iemand gebyt word:
Bly kalm.
Probeer die spinnekop identifiseer (neem foto indien moontlik).
In die meeste gevalle is pynmedikasie, antihistamiene en wondsorg al wat nodig is om ’n spinnekopbyt te behandel. Indien die persoon dalk ’n allergiese reaksie toon, asemhalingsprobleme ontwikkel of sy bewussyn verloor, het die pasiënt dadelik mediese hulp nodig.
Spinnekopbyte by kinders kort dadelik mediese sorg.
Was die bytplek met seep en water en plaas ’n yspak op die wond.
Wonde moet skoon gehou word en antiseptiese salf kan opgesmeer word.
Indien die pasiënt verdere simptome ontwikkel, moet mediese hulp dadelik gekry word.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube