-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Henko van Rensburg was net 12 toe hy sy eerste giftige slang gevang het. Vandag, 10 jaar later, weet hy genoeg van slange vang om ‘n lewe daaruit te maak. Hy werk die afgelope paar jaar saam met Marius Koekemoer van Reptile Rescue in Lephalale om giftige slange by huise en boupersele in die dorp te vang vir die melk vir teengif. Met die jare se ondervinding ken hy die verskillende slange se gewoontes en weet hy hoe om elkeen in sy soort te benader. Maar verlede Donderdag het hy ook eerstehandse kennis gekry oor hoe dit voel as ‘n 2,4m swartmamba jou pik.
Henko vertel dat hy besig was met roetine hok-skoonmaak. Verskeie giftige slange word in slangkaste by Reptile Rescue aangehou vir praatjies by skole en besighede. In een van die hokke is ‘n meneer van ‘n swart mamba wat Henko Donderdag sonder moeite gevang en in ‘n sak geplaas het. Daarna wou hy die stomp wat in die hok is verwyder. Hy het egter vergeet dat daar nog ‘n mamba onlangs in die hok geplaas is.
“Die mamba het agter die stomp gelê en ek het hom glad nie gesien nie, ek het gedink die hok is leeg. Toe ek aan die stomp vat, pik die mamba my,” vertel Henko Vrydag vanuit sy hospitaalkamer in die Lephalale MediClinic.
“Ek het dadelik besef hier is moeilikheid en het al die hokke toegemaak. Ek het vir Marius gebel, wat op daardie stadium by Medupi besig was om ‘n slang te vang. Hy kon dadelik Eric Roland en Hannes van den Berg van die Hitachi-noodspan ontbied. Terwyl ek vir hulle gewag het, het ek besef ek moet kalm bly en het ‘n sigaret aangesteek. Ek het vir my ‘n toerniket van leerbelde gemaak en om my voor- en bo arm vasgemaak. Intussen het ek gevoel hoe my lippe dood raak en ek het ‘n metaal smaak in my mond geproe. Ek het die skoonmaker wat daar werk gevra om my dop te hou en my deur die gesig te slaan as ek my bewussyn verloor en op die bank gaan lê.
“Gelukkig was Marius en die noodspan binne minute daar om vir my suurstof te gee en ‘n drip aan te sit. By die hospitaal het hulle vir my 10 ampules teengif ingespuit. Ek het amper onmiddellik verligting gevoel. Die teengif het my effens laat hallusineer en ek het op ‘n stadium figure om my bed sien staan.”
Henko se ouers, Athur en Ilze Coop het onmiddellik SMS’e uitgestuur om mense te vra om vir hom te bid. “Die hele wêreld het omtrent gebid,” vertel Arthur. “Ons is dankbaar dat Henko so vinnig behandeling gekry het, ons glo die gebede wat uitgegaan het en die goeie behandeling wat hy gekry het is die rede waarom hy so gou uit die hospitaal ontslaan kon word. Ek dink die les wat ‘n mens hieruit kan leer is dat jy nooit mak moet word as dit by wilde diere en veral giftige slange kom nie.”
Marius het die week aan Noordelike Nuus gesê dit is belangrik om te besef dat ‘n mens nie sommer dood neerslaan as ‘n slang jou byt nie. “Jy móét kalm bly en jou hartklop stadig hou. As jy gou genoeg by behandeling kan uitkom gaan jy ongedeerd anderkant uitkom, met miskien ‘n bietjie meer respek vir die reptiele en dankbaarheid dat jy gespaar is. Die groot faktor wat in Henko se guns getel het, is kennis. Hy het geweet om kalm te bly en hulp te ontbied. Dit is belangrik dat inwoners in die Bosveld, waar daar ses van die 13 dodelike slange voorkom, die slange sal kan uitken met basiese kennis van hoe hulle gif werk.”(Sien gerus Noordelike Nuus se webblad vir ‘n artikel oor die ses dodelike slange).
Henko bedank die dokters en die verpleegpersoneel van MediClinic Lephalale vir die uitstekende behandeling wat hy gekry het.
0 Comments