-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Meeste mense is alreeds besig om te beplan aan hul eindjaar feestyd gesellighede, maar vir sommige mense is die druk om net liggaam en siel bymekaar te hou so hoog dat dit moeilik is om deur elke dag te kom.
Dit is juis hier waar Dr Susan Rothman Lyons en haar span opgeleide beraders by die nie-winsgewende organisasie Angel Touch Trauma and Counsel Centre van onskatbare waarde is.
“Mens besef nie aldag hoeveel nood daar in ons klein dorpie is nie, maar ek het nou al met soveel mense gepraat wat sukkel om daagliks by hul werk te presteer omdat hulle soveel bekommernisse by hul huise het,” sê Dr Rothman Lyons terwyl sy ook noem dat sy al met menigte potensiële selfdood gevalle te doen gekry het weens veral finansiële spanning.
Die Angel Touch Trauma and Counsel Centre gaan dan ook hierdie jaar ‘n Christus-fees met ‘n verskil aanbied.
“Kersfees gaan oor meer as koekies, drank en duur geskenke en ons wil poog om soveel moontlik mense bymekaar te bring om te vier in die ware boodskap van Kersfees terwyl ons afwyk van die materialistiese klem wat deesdae op die dag geplaas word.”
Intussen is die groepie ook besig met ‘n Tin Bin projek waar mense nie-bederfbare produkte kan skenk vir minderbevoorregte gesinne.
“Mense moet asseblief uitkyk vir ons dromme by winkelsentrums in die dorp as hulle gaan inkopies doen waarin hulle dan hul donasies kan plaas,” sê Babie Eksteen, een van Angel Touch se flukse helpers.
“Ons weet dat daar in die verlede baie probleme en aantygings met fondsinsamelings was en daarom sal al ons donasies streng gekontroleer word. Elke fondsinsameling sal ‘n unieke ATCT nommer hê en indien enigiemand twyfel oor die geloofwaardigheid van ‘n fondsinsameling is hulle welkom om met Dr Rothman Lyons in kontak te tree.”
Enigiemand wat betrokke wil raak by Angel Touch Trauma and Counsel Centre kan Dr Rothman Lyons skakel by 076 246 8563.
0 Comments