<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Matriek- en ander eindeksamens lei tot kritieke bloedtekort

 
News : 06 Nov 2017 665 Viewed 0

Dit lyk asof November ’n uitdagende maand gaan wees – nie net vir matrieks en ander skoliere en studente wat eindeksamen skryf nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD).

Die bloeddiens staar tans ’n kritieke bloedtekort in die gesig omdat daar nie tans baie bloedskenkingsveldtogte by skole en universiteite gehou kan word nie.

Die SANBD het vandag (1 November 2017) bekend gemaak dat daar ’n kritieke tekort aan bloed is regoor die land, met slegs 1 473 groep O-eenhede – net genoeg vir 1.5 dae.

In KwaZulu-Natal is die situasie selfs meer benard, met minder as een dag se beskikbare bloedvoorraad. Die bloedvoorraad in dié provinsie staan tans op 0.7 dae (129 eenhede), in vergelyking met die gebruiklike 500 eenhede. 

Gauteng het slegs 1.5 dae se voorraad beskikbaar. Bloedvoorraad in die Vrystaat en Noord-Kaap staan tans op 1.7 dae.

Dit word beskou as ’n krisis wanneer bloedvoorraad daal tot op die punt waar daar minder as twee dae se voorraad beskikbaar is.

“Die land se bloedvoorraad is gevaarlik laag. Dit staan tans op minder as 1.5 [dae se] groep O-voorraad, in vergelyking met ’n goeie bloedvoorraad van 3 000 eenhede of vyf dae se bloed,” sê Silungile Mlambo, nasionale bemarkingsbestuurder van die SANBD.

“Die situasie is reeds op ’n kritieke vlak in KwaZulu-Natal en ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners – aktiewe skenkers, diegene wat ophou skenk het én potensiële skenkers – om die nasionale bloedvoorraad te gaan aanvul deur by hul plaaslike bloedskenksentrum te gaan skenk.”

Mlambo sê bloed is lewensnoodsaaklik vir kankerpasiënte en vroue wat geboorte skenk. Dié twee groepe maak ook die grootste gedeelte uit van mense wat bloedoortappings nodig het. 

“Soveel mense in lewensbedreigende situasies het bloed nodig. Dít is wat ’n bloeiende ma se lewe red sodat sy die baba wat sy nou-net in die wêreld gebring het kan grootmaak en liefhê. Dít is wat ’n kankerpasiënt help om behandeling te kan verduur en oorleef. En dís die punt: dis nie net bloed nie; ’n eenvoudige, maklike bloedskenking red mense se lewens,” sê Mlambo. 

Die SANBD doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om onmiddellik bloed te gaan skenk. “Meer as dit, ons vra alle Suid-Afrikaners om gereelde skenkers te word. Deur net vier keer ’n jaar bloed te skenk, kan ons maklik situasies vermy soos die een waarin ons onsself tans bevind,” sê Mlambo. 

Om meer oor bloedskenking uit te vind en waar jou naaste SANBD-bloedskenksentrum is, besoek sanbs.org.za of bel 0800 11 90 31.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube