<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Enig in sy soort...

 
Rubrieke / Columns : 25 Sep 2014 119 Viewed By Melt van der Spuy 0

“Weet jy wat gee my plesier en lekkerkry op plekke waar ek nie eers plekke het nie?” vra Herman nou die dag en antwoord sommer self: “Dis al die soort karakters wat jy in ’n kamp kry.”
Servaas rek hom uit in sy stoel: “Laas toe ons in die willetuin was, staan ons langs ’n ouerige paar. Hulle is die laaste karavaan net voor die ablusie.
“Die ongeluk was, almal loop by hulle verby om by die ablusie uit te kom. Die man, Johnny, het ook sy TV skotteltjie so paar meter weg van sy karavaan af opgeslaan. Die gevolg is mense loop tussen sy skottel en die karavaan deur.
“Een dag staan hy toe tussen die skottel en die karavaan met ’n leë koffieblik in die hand. Ek wou nog vra wat hy doen, toe sien ek ’n man kom aangestap en mik om tussen die skottel en die karavaan deur te loop.
“Johnny wag net tot die man mooi by hom is, toe skud hy sy blik. Toe die ander man vassteek, sê Johnny: “Tolgeld om hier deur te loop asseblief.”
“Daai ou het omgedraai en om die karavaan geloop. Dit het gewerk, want skielik het al hoe minder mense die paadjie tussen die skottel en die karavaan gevolg.”
Herman laat knak ’n kasteeltjie se oor en na ’n groot sluk sê hy: “By my laaste kampplek was daar weer die man en vrou, elkeen met ’n self-geprakseerde trekwaentjie.
“As hulle kom skottelgoed of klere was, dan word alles op die waentjies gelaai en daar trek hulle. Vreeslik oulik, maar die twee was van die vroeë ontwakers en die geklap van die wieletjies op die plaveipad terwyl die son skaars uit is, is nie iets lekker om van wakker te word nie.”
Servaas kry skielik so bekende vonkel in die oog.
“Ek het darem een keer ook my kans gekry om vir ander te lag,” sê hy. “Ons was weer in die willetuin en daar was een ou omie wat elke oggend in die badkamer net te tjirpie was. Ek is nog half deur die slaap dan wil hy weet hoe was my nag, waar gaan ek vandag heen ry en hoeveel leeus het ek al gesien. Nie juis die beste tyd van die dag om sulke goed by my te wil weet nie.
“Ek het redelik dik geraak daarvoor, maar ek is mos goed opgevoed en kan nie lelik met die oues wees nie. Ek wag toe maar tot een oggend.
“Die oggend staan ek vroeg op, trek aan en borsel sommer so by die karavaan tande. Ek loer kort-kort uit en toe ek sien die omie is op pad badkamer toe, gryp ek my kampsakkie en laat waai soheentoe.
“Daar gekom sluip ek saggies in. Ek wag net tot hy begin tande borsel. Toe klop ek hom op sy skouer en vra ewe gemoedelik hoe dit vanoggend gaan.
“Manne, dis nie mooi om te sien hoe ’n man met ’n mond vol Colgate probeer praat nie. Dit spoeg en gorrel en hy weet nie of hy orent moet kom of steeds koponderstebo moet staan nie.
“Hy gorrel nog toe wil ek weet waar gaan hy vandag leeus soek. Hy probeer praat, maar dis net tandepasta borrels. Hy pluk toe maar sy tandeborsel uit sy mond en beduie so half wes. Met die vlieg van die tandepasta van sy borsel af en tref die ou langsaan bokant die oor. “Ek is toe daar uit voor ek slae kry.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube