<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Derde generasie nuwe Nissan X-Trail

 
Rubrieke / Columns : 30 Oct 2014 93 Viewed By NoordNuus reporter 0

Nissan se derde generasie X-Trail is so pas in SA bekendgestel en spog met ‘n  nuwe  sportief stylvolle ontwerp, asook nuwe tegnologie en ‘n 5-ster veiligheidsgradering.
Die  X-Trail volg kort op die hakke van die Qashqai en dit is duidelik dat daar sommer heelwat kruisbestuiwing plaasgevind het wat betref ontwerp eienskappe. Verder deel die twee gewilde modelle ook heelwat nuwe tegnologie en veiligheidstoerusting.
Die X-Trail is soos die Qashqai ook gebou op die Renault-Nissan CMF (Common Module family) platform en is saam met die Juke, Qashqai en Murano die vierde “Crossover” in die Nissan stal met die X-Trail meer van ‘n Sportnuts as byvoorbeeld die Juke.
Nissan het die X-Trail in drie spesifikasievlakke ter plaatse bekendgestel nl, XE, SE en LE met drie enjinopsies (een diesel en twee petrol) nl, ‘n 1.6L diesel, 2.0L en 2.5-liter petrol) terwyl twee- of vierwielaandrywing  beskikbaar is. Die X-Trail is 4.6m lank (5mm langer), 1.8m breed (+30mm breër) en 1.7 hoog. Die afstand tussen voor- en agterwiele is nou 2.7m wat 75mm langer is as die vorige model. Die 1.6dCi turbodieselenjin lewer 96kW/320Nm en kom met ‘n 6-spoed handratkas en 'n keuse van voor- of vierwielaandrywing. Nissan sê die brandstofverbruik is gemiddeld 5.3-liters/100km met ‘n CO2 syfer van 134g/km.
Van die twee normaal ge-aspireerde petrolenjins lewer die 2.5-liter petrol SE model 126kW/233Nm se piekkrag en trek deur al die wiele via ‘n Xtronic CVT-ratkas. Kopers het ‘n keuse tussen vyf of sewe sitplekke. Die 2.0-liter XE model kom met ‘n 6-spoed handratkas en bied 106kW/200Nm piekkrag. Brandstofverbruik vir beide modelle word aangegee as 8.4L/100km en ‘n CO2-syfer van 197g/km.
Die nuwe Xtrail gebruik Nissan se All-Mode 4x4i stelsel (2.5 SE 4WD, 1.6dCi SE 4WD en 1.6dCi LE 4WD) en bied drie verstellings nl, 2WD, Outo en 4WD Lock wat via ‘n draaiknop op die middelkonsole geselekteer kan word. Nissan sê die stelsel bied ook vyf onderstel verstellings  met etlike aktiewe en passiewe veiligheid- en bestuurder- hulpstelsels vir die ooppad of wanneer jy met jou X-Trail in die veld wil gaan speel.
Nissan het die nuwe X-Trail omvattend toegerus en daar is selfs in die intreevlak XE modelle heelwat geriefies  soos onder meer elektriese vensters en spieëls, ‘n multi-funksie stuurwiel met beheerskakelaars vir ondermeer die radio, CD, MP3/WMA - klankstelsel asook die spoedbeheer. Lugversorging en ook USB, Aux, Bluetooth –koppeling is standaard.
Nissan se “Techno Pack” is as ‘n opsionele ekstra beskikbaar vir die  SE en LE modelle en voeg die “NissanConnect” –stelsel by wat  satnav op ‘n 7” raakskerm, verhitte kantspieëls en  18” allooiwiele insluit.
Die X-Trail het die Europese 5-stêr NCAP veiligheidsgradering behaal en standaardveiligheidstoerusting sluit in ses lugsakke, ABS remme met elektroniese remver-spreiding asook Isofix kindersitplek-hegpunte.
Die Nissan X-Trail word verkoop met ‘n 6-jaar/150 000km waarborg en ‘n 5-jaar/90 000km diensplan met ‘n padbystanddiens ingesluit.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube