-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
In sy digbundel, Met die aarde praat, verklap TT Cloete dat die droër dele van ons land hom aantrek vanweë “die wysheid wat gedroog is in klip en kaktus”. Ook skryf hy: “Die woestyn is ‘n digterlike speelding.”
Digter Daniel Hugo vertel dat winterlandskappe en woestynlandskappe ook sy skrywershart roer: “Ek hou van die strakheid van kaal takke in die winter en die barheid van klipkoppies in die woestyn - die natuur gestroop tot sy geraamte.” Net so, sê hy, spreek gestroopte gedigte tot hom.
Dalk kyk ‘n mens meer stip wanneer daar minder is, meer bewus van lewe wanneer dit skaars is? In my eerste digbundel, die vloedbos sal weer vlieg is ‘n reeks van ses Namib woestyngedigte. Veel later het ek besef dat helfte van daardie gedigte in donderbuie eindig. Want as ek vir langer as tien dae in die woestyn is, trek my keel toe. Waar is die bome, die water, die swerms?
As plaaskind op Ellisras het ek gesien wat die droogte van 1984 aan mens en dier doen. Hoe my pa langs die slingerfoon gryp na los halms gras, pleit vir weiding by die bure. Snags die beeste se hees gebulk, die tong-teen-verhemelte-dors. Baie boere moes verhongerde diere skiet. My ma se pragtige roostuin wat verstof. Droogte is stil chaos.
Die kleipot op die plaasstoep was in die somer vol koel drinkwater. Ek onthou hoe ek as agtjarige kind die water geskep, gedrink en gedroom het van ‘n vol boorgat en fontein, die Mogolrivier weer in vloed. Met ‘n bekertjie water in my hand is ek uit in die stofbruin tuin – die maroela, kanniedood, ook die blomlose hibiskus en frangipani,en die laaste kaaltakstruik het ek besprinkel-sprinkel met kleipotwater terwyl ek bid vir reën, reën, reën.
Soos julle weet, gaan Waterbergse droogtes (statisties min of meer elke tien jaar) soms oor in vloede (statisties min of meer elke agt jaar). Daarom, met die reëns van 1985, was die hemel soos ‘n krip wat kraak, wat blinknat deur die bliksemstrale lek. Blitse wat weer en weer skiet uit gloeiblou kole vuur. Die boere het mekaar gebel, die plaaskinders het onder die geute gestort en in die veld met nat miershoopklei gespeel. Daar was weer waterlelies in die Mogolrivier en seekoeispore in die bure se nartjieboord.
Partykeer, soos met die vloede in Februarie vanjaar, sny die water die plase van die buitewêreld af, dan is daar ‘n krisis en bring die weermaghelikopter voorraad. Maar hoe vernietigend ‘n vloed ook al kan wees: waar water is, daar is lewe. ‘n Vloed het nie die doodsheid van ‘n droogte nie.
Oorvloed – dit was destyds die enigste kritiek op my twee digbundels wat andersins goed ontvang is. Te veel weligheid van bos, veld en woud. Te veel goeters wat woel en krioel. Eindelik besef ek waarop dit neerkom: my weersinnige skrywery teen die dorheid van daardie droogtejaar in my kinderjare, drie dekades gelede.
0 Comments