-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dis ’n lekker warm dag en ek en Servaas het klaar niks gedoen vir die oggend. Dis nou bykans halfvier en ons twee sit en moeg word op die stoep.
“Mensig, mater, nou dink ek weer aan daai trippie willetuin toe wat gemaak dat ek en ’n bobbejaan nou nie juis van die beste vrinne is nie.”
“Dis ’n storie wat ek nog nie gehoor het nie. Vertel.”
“Nee, sien,” begin Servaas, “ ek en my aller-enigste het nog die groot groen tent gehad en ons slaan hom mos toe daai tyd in Petoorskop in die willetuin op. Nou moet ek net sê toe ons die kamp deurry om
staanplek te soek, sien ons die trop bobbejane wat ewe rammetjie-uitnek in die kamp rondstap.
“Ewentwel, ons kry toe so lekker plek in die een hoek onder ’n groot koelteboom en so effens eenkant. Slaan die tent op, kry die bed reg, sit stoele neer, gooi vir my aller-dorstigste ’n wyntjie en vir myself ’n kasteeltjie.
“Die volgende oggend trek ons toe sommer vroeg die kamp uit. Ons was van plan om dié dag ver te ry. Ons doen toe so en kom die middag so teen drieuur se kant weer by die tent aan.”
Servaas skuif tot op die voorpunt van sy stoel: “Mater, sommer met die uitklimslag toe sien ons hier is fout. Ek het agter die tent parkeer en toe ons om die bakkie stap, lê daar ’n leë papier eierhouer op die grond. Net so een soos ons het.
“Ons stap om die tent en kry ons sout en peper potjies voor die tent lê. Dis toe ek vir die tent se deur kyk wat ek die yslike gat in die tent reg langs die deur sien. Die tent het so spesiale plek waar die elektriese draad deurgaan vir die krag en daai gaatjie is toe 16 keer groter.
“My maat, ons rits daai tentdeur oop en stap binne. Boeta, as jy al ooit chaos in ’’n tent gesien het, dit was daar. Die hele vloer is bruin en toe ek mooi kyk, sien ek dis ons koffie wat op die vloer lê. Maar die koffie is nie meer koffie nie, dis nou ’n mengsel van tamatiesous, mosterd, die vorige aand se braaisous, eiergeel en ’n hele klomp sout en peper na smaak.”
Ek moet hom in die rede val: “Mensig, Servaas, nou wat het gebeur?”
Hy kyk na my asof ek ’n vis is wat op droë grond lê en graag saam met my maats in die water wil wees: “Bobbejaan se kind my mater, bobbejaan se kind.
“Ek en my aller-verbaaste staan nog so toe kom daar ’n medekampeerder aan en hy vertel ons was die oggend skaars weg toe sien die trop bobbejane hulle kans. ’n Groot kalant het die tent oopgebreek en die kleintjies ingestuur om alles wat na kos lyk en ruik in die hande te kry. Hy het probeer keer, maar dit was te laat
“Afgesien van die vloer was alles verder in die tent besmeer met ’n mengsel van eiergeel, mieliemeel, asyn en om dit af te rond al ons ‘sunlight’ en ‘handy andy’.
“Daai ape het nie net al ons kos opgevreet nie, maar die gevolg was die volgende dag moes ek en my aller-teleurstellendste tent afbreek en die pad vat huis toe. Moet sê, Sanparke het ons darem krediet vir die tyd gegee, maar die naaste wat ek aan bobbejaan se kind wil kom, is van hier af Kaap toe en dis nog te naby.”
0 Comments